Jersey se SA tweetal speel groot rol in sege

Scott van Breda – twee drieë. (Foto: Twitter)

ʼn Tweetal Suid-Afrikaners was Vrydag goud vir die Jersey Reds werd in dié Kanaaleilandklub se sege van 33-29 oor Bedford in die Engelse Kampioenskap.

Scott van Breda, die span se buitesenter en kaptein, het twee drieë vir die wenspan gedruk; en Brendan Cope (losskakel) se vier doelskoppe het agt punte bygdra.

Van Breda is ʼn gewese Superrugbyspeler van die Kings en die Stormers, en Cope het vir die Sharks se o.21-span gespeel.

Nóg ʼn Suid-Afrikaner, Harvey Biljon, rig die eilanders af.

♦ Luke Daniels, ʼn oudleerling van die Grey-hoërskool in Port Elizabeth, het twee doelskoppe en ʼn strafdoel (sewe punte) vir Ealing Trailfinders teen Bristol behaal.

Laasgenoemde het die kragmeting Saterdag met 28-27 gewen.

♦ In nog ʼn wedstryd in dié reeks het die Namibiese toetsspeler Lesley Klim (buitesenter) ʼn drie vir Doncaster in sy oorwinning van 19-17 oor London Scottish gedruk.

Pro14-reeks

♦ Suid-Afrikaners aan albei kante het gelykop bygedra tot die gelykop stryd tussen Newport Gwent Dragons (NGD) en Glasgow Warriors in die Pro14-reeks.

Die Springbok Zane Kirchner (losskakel) het ʼn doelskop en ʼn strafdoel vir die Walliese streekspan behaal; en die gewese Stormer en SA o.20-speler Brandon Thomson (binnesenter) het ʼn drie vir die Skotse superklub gedruk.

♦ Duhan van der Merwe (linkervleuel) het ʼn drie vir die Skotse superklub Edinburgh gedruk en Jaco van der Walt (losskakel) het een verdoel in hul span se sege van 29-24 oor die Ierse provinsie Leinster.

Van der Merwe is ʼn gewese SA o.21-speler wat die Blou Bulle in die opstelronde van die Curriebeker verteenwoordig het; en Van der Walt het Superrugby vir die Lions gespeel.

♦ In die wedstryd tussen die Ierse provinsie Connacht en die Walliese streekspan Ospreys (Swansea) het die Walliesers se regtervleuel Hanno Dirksen ʼn geelkaart op die lyf geloop.

Die Iere het die botsing met 26-15 gewen.

Dirksen is die seun van die Gasel-losskakel Hansie Dirksen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.