Jersey steun wéér swaar op SA bydrae

Die Engelse klub Jersey het in die jongste ronde ligawedstryde wéér swaar op puntemakers uit Suid-Afrika gesteun.

Hy het Rotherham Titans in die Engelse Kampioenskap met 38-16 gelooi.

Vir Jersey het Brendan Cope (losskakel) tien punte met vyf doelskoppe behaal. Jason Worrall (linkervleuel) het ʼn drie gedruk, en Scott van Breda (heelagter) het ʼn strafdoel oorgeklits.

Cope het vir die Sharks se o.21-span gespeel; Worrall het die SA Skolespan en Westelike Provinsie o.21 verteenwoordig; en Van Breda het Superrugby vir die Stormers gespeel.

♦ In nog ʼn wedstryd in die Engelse Kampioenskap het Ealing Trailfinders se Suid-Afrikaans gebore Luke Daniels (regtervleuel) 20 punte teen Nottingham aangeteken.

Hy het ʼn drie gedruk, al ses sy span se drieë verdoel en met ʼn strafdoel geslaag.

Ealing het met 45-20 gewen.

Engelse Premierliga

♦ Sale se Springbok Faf de Klerk (skrumskakel) het tien punte met ʼn drie, ʼn doelskop en ʼn strafdoel in sy span se sege van 58-23 oor Worcester behaal.

Die Klerk se drie word as die beste van die kragmeting bestempel. Mike Haley het in sy eie 22-gebied vir Marland Yarde met ʼn lang aangee op ʼn lang lopie weggestuur. Hy het na Hayley teruggespeel, wat na De Klerk laat loop het, wat die vaart en krag aan die dag gelê het om die drie af te rond.

Die Skotse toetsspeler en gewese Lions-kaptein, Josh Strauss, het met ʼn paar stoomrollerlopies vorendag gekom, en self ook vir Sale gedruk.

♦ Demetri Catrakilis (losskakel), wat Superrugby vir die Stormers gespeel het, het twee strafdoele deur die pale geloods in Harlequins se nederlaag van 11-24 teen Saracens.

♦ Die Bok Piet van Zyl (skrumskakel) van London Irish het ʼn slag netjies gepypkan voor hy sy pad deur ʼn losgemaal doellyn toe gebeur het.

Die Bok Johan Ackermann se Gloucester het Irish met 33-29 geklop nadat die verloorspan aanvanklik met 17-0 voor was.

♦ David Ribbans (flank), wat Curriebekerrugby vir die WP gespeel het, het ʼn drie vir Northampton in sy nederlaag van 22-25 teen Newcastle gedruk.

♦ Die Bok Juan de Jongh (senter) het nou wel nie self gedruk nie, maar hy het die drie van die wedstryd aangevoor toe hy op die middellyn indrukwekkend deur Leicester se verdediging gebreek, en die bal vinnig laat loop het vir ʼn aangeebeweging wat op ʼn drie vir die Wasps-vleuel Elliot Daly uitgeloop het.

Leicester het die wedstryd met 16-15 gewen.

Pro14-liga

♦ DTH van der Merwe, die Kanadese toetsvleuel wat op Worcester gebore is, het in die Pro14-liga drie drieë vir die Skotse superklub Glasgow Warriors teen die Italiaanse klub Zebre gedruk.

Die Skotte het die Italianers met 68-7 verniel.

♦ Duhan van der Merwe (linkervleuel), ʼn gewese SA o.20-speler wat die Blou Bul-trui in die Curriebeker-opstelronde gedra het, het ʼn drie vir die ander Skotse superklub Edinburgh teen die Ierse provinsie Connacht gedruk; en Jaco van der Walt (losskakel), wat vir die SA Skolespan en Superrugby vir die Lions gespeel het, het ʼn strafdoel behaal.

Hul span was met 29-22 baas.

♦ Wiehahn Herbst (stut) van die Ierse provinsie Ulster het ʼn geel kaart op die lyf geloop in sy span se nederlaag van 17-35 teen die Walliese streekspan Cardiff Blues.

Hy het benewens vir SA o.20 ook Superrugby vir die Sharks gespeel.

Engelse Kampioenskap

♦ In die Engelse Kampioenskap het die Namibiese toetsspeler Lesley Klim (buitesenter) ʼn drie vir Doncaster teen Bedford gedruk.

Laasgenoemde het ʼn lewendige kragmeting met 41-32 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.