John Philip Botha, of Bakkies soos almal hom ken

Bakkies het meestal ‘ontvang’ voordat hy slae uitgedeel het. (Foto: YouTube)

Daar is sekere rugbyspelers met wie jy nooit skoor gesoek het nie … en Bakkies Botha was een van hulle.

Hy het bekend gestaan as die “Enforcer” van die Springbokpak, die ene wat die vonk verskaf het, die kole op die vuur gegooi het.

Hy het ʼn groot rol in Victor Matfield, wat ek as een van die beste slotte beskou wat nog vir die Springbokke gespeel het, se ongekende welslae gespeel.

Hulle het jare lank saam gespeel, mekaar aangevul en was by die Blou Bulle bekend as “Bloedbroers”.

Botha, (38) is een van die grotes van Springbokrugby. Hy het 100 Superwedstryde vir die Bulls gespeel, 53 keer vir die Blou Bulle, 85 toetse vir die Bokke en 73 keer vir Toulon in Frankryk.

Hier in komkommertyd, wanneer daar min rugby is en die stories maar opdroog, vertel die gewese Walliese stut Rhys Gill, op Wales on Line, juis een van die  staaltjies toe twee van sy spanmaats Bradley Davies en Lou Reed, swaarde met Botha in ʼn kragmeting vir die Cardiff Blues met Toulon gekruis het.

By die eerste lynstaan het Reed hardop gesing “John Paul, John Paul, John Paul,” toe hy langs Botha stelling ingeneem het.

Botha (wie se doopname eintlik John Philip is) het hom bloediglik vererg en teruggekap met “jy’s swak”.

Reed het sarkasties teenoor Davies opgemerk dat hy moet kom uithelp.

Tien minute hierna het Davies die veld met ʼn bebloede, skewe neus verlaat.

“Sien jou later,” het Botha gesê.

Ook maar goed die Suid-Afrikaanse media het nie vroeër van dié staaltjie te hore gekom het nie.

Een aand op ʼn onthaal, toe daar nog openlik met die Bokke gepraat kon word, het ʼn paar van ons vir Botha nader getrek ná ʼn toets teen die All Blacks.

“John Philip,” het een van die kollegas weggetrek.

“My naam is Bakkies,” het Botha dadelik teruggekap.

Waar het die bynaam vandaan gekom?

Botha wou nie sê nie, net dat hy nog altyd as Bakkies bekend gestaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lol ·

In die Hemelse Vader se naam het hy darem baie geweldadig opgetree? En Hom daarna die eer gegee!!

Stefan ·

Lol, in die Bybel lees jy al van boks gevegte en ek is seker daardie tyd was daar nie boks handskoene, kop- en mondskerms soos vandag nie, verseker was dit geweldadiger as Bakkies se manier van rugby speel. Rugby is sy talent, hy het dit voluit gespeel en nog steeds die Here die eer gegee, daarmee is ek tevrede.

Veritas ·

As daar ooit ‘n speler was wat ‘Yster’ as bynaam moes gehad het was dit Bakkies Botha. In die moderne era, was daar internasionaal nie nog so’n rugbyspeler nie. Wat my die meeste van Bakkies opgeval het, was dat hy altyd sy span eerste gestel het. Hy het altyd sy beste gegee en dan nog so’n bietjie ekstra. Dankie Bakkies, ek hoop daar gaan iemand kom, wat jou toewyding sal oortref. Dit sal SA rugby weer op die wenpad plaas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.