Jones nog ‘vol vertroue’ ondanks Franse nederlaag

Australië se Eddie Jones (Foto: Saeed Khan/AFP)

Australië se hoofafrigter Eddie Jones sê hy bly “vol vertroue” oor sy span se kans op sukses ondanks die woeste 41-17-nederlaag wat die Wallabies die naweek in Frankryk gely het. Dit was boonop die span se vyfde agtereenvolgende nederlaag sedert hy die leisels oorgeneem het.

Die Wallabies, tweemalige Wêreldbekerkampioene, begin hul toernooi op 8 September teen Georgië, maar kon nog nie hond haaraf maak sedert Jones aan die begin van die jaar aangemeld het nie.

“In die span is daar aansienlik vertroue,” het Jones aan verslaggewers gesê.

“Ons sou hou van ʼn beter wen-verloor-rekord.

“Ons probeer ʼn ander soort spel speel en die uitslae was nie goed genoeg nie. Maar ons het ʼn langtermynplan vir die Wêreldbeker en dit is hoekom ons hier is,” sê Jones.

In die Franse hoofstad het die jong losskakel Carter Gordon ʼn moeilike wedstryd ondervind – en hy het tien punte in sy vyfde internasionale wedstryd weggeskop. Die 22-jarige was een van 12 spelers in die wedstrydspan met tien toetse of minder agter die rug.

“Dit is 100% ʼn bron van kommer, maar al wat ons kan doen, is om met die jong man te werk,” het Jones gesê.

“Ons het jong ouens in die span en ons staan agter hulle; hy sal verbeter.”

Een ligpunt vir die 63-jarige Jones was die vleuel Suliasi Vunivali se drie.

“Ek het nagedink oor ʼn hele aantal spelers wat verbeter – en Suli is een van hulle.

“Hy het een goeie drie gedruk, kon selfs nog ʼn paar gedruk het. Hy het gelyk of hy reg is om op die hoogste vlak te speel.”

Jones het teruggekeer vir ʼn tweede ronde as Australiese afrigter nadat Engeland hom verlede jaar die trekpas gegee het.

Saterdag het Fidji sy voormalige span vir die eerste keer geklop. Die Wallabies kom op 17 September in ʼn deurslaggewende groepwedstryd teen Fidji te staan.

“Dit was fantasties. Dit gee selfs meer kleur aan die kompetisie.

“Vanjaar kan dit die Wêreldbeker wees wat niemand gaan vergeet nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Die Wallabies sal darem seker dit regkry om vir Georgië te klop. Maar nie ver nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.