Jones se kop gaan nie rol

Engeland se Eddie Jones. Foto: Glyn Kirk/AFP.

Ná Engeland se sukkelvertoning in die afgelope Sesnasies-toernooi waar hulle vyfde geëindig het, het talle ondersteuners Eddie Jones se kop as hoofafrigter geëis.

Dit was onder meer die eerste keer in 45 jaar dat die Rose teen Ierland, Wallis en Skotland in dieselfde toernooi verloor het.

Maar ’n komitee, bestaande uit Engeland se rugbyraadslede (RFU), oudspelers en onafhanklike kenners, het ná ’n deeglike ondersoek bevind dat die Australiër nog die geskikte man vir die pos is.

’n Verligte Jones het gesê dat hy baie gedurende die hele proses geleer het.

“Die belangrikste is dat ons kernpunte geïdentifiseer het om toe te sien dat die span met ’n positiewe ingesteldheid vir die volgende Wêreldbeker-rugbytoernooi in 2023 voorberei,” het Jones gesê.

Volgens die komitee was daar ’n spul faktore wat tot die Engelsmanne se swak vertoning bygedra het.

Spelers wat vir Saracens in plaaslike reekse uitdraf, het te min speeltyd voor die afskop van die toernooi gehad, terwyl voorspelerafrigter Matt Proudfoot positief vir Covid-19 op die vooraand van die Sesnasies getoets het.

Beserings aan sleutelspelers – onder wie Manu Tuilagi en Sam Underhill – het die Engelse ook op die agtervoet geplaas.

Bill Sweeney, uitvoerende hoof van die RFU, het egter gesê dat die beheerliggaam baie teleurgesteld is in die span se vertoning.

“Ons vertonings in die afgelope paar seisoene het beteken dat ons baie meer verwag het. Tog het Eddie hierdie ondersoek met nederigheid aangepak en hy het ons toegelaat om na elke liewe aspek van die toernooi met ’n vergrootglas te kyk,” het Sweeney gesê.

Volgens die RFU sal skeidsregters voortaan vir Jones – die wêreld se bes betaalde afrigter – bystaan om met Engeland se swak dissipline op die veld te help.

“Ek erken dat ons swak gespeel het. Ek is egter vol vertroue dat ons sterker as ooit sal vertoon in die aanloop tot én gedurende die volgende Sesnasiestoernooi,” het Jones gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.