Jones tree vir Farrell in die bresse

Owen Farrell en Eddie Jones. Foto: William West/AFP.

Die Britse pers vergewe nie sommer sy sportlui se sondes nie. Veral as een van die nasionale spanne sukkel óf dalk teen ’n aartsvyand vasval.

Nadat Engeland die afgelope naweek teen Skotland – propvol Duhan van der Merwe-woema – op Twickenham verloor het, is die Rose vierkant in die joernaliste se visier.

En Owen Farrell is die speler wat die meeste deurloop.

“England boss Eddie Jones should drop captain Owen Farrell after Scotland horror show,” is hoe The Sun sy berig oor die naweek se wedstryd begin het.

Hierdie vyandigheid jeens Farrell het Jones genoop om ’n striemende aanval op joernaliste te doen.

“Owen is ’n ongelooflike bestendige en suksesvolle rugbyspeler vir Engeland,” het Jones gesê. Hy het egter bygevoeg dat die beleërde kaptein – nes baie ander spelers in die Engeland-trui – nie op sy beste teen Skotland was nie.

“Ek weet die media wil hê dat ek hom uit die span moet weglaat. Maar hy is ’n uitstekende speler en nes enige ander speler wat sy sout werd is, gaan daar wedstryde wees waar hy nie op alle silinders vuur nie. Is dit genoeg rede om ’n speler te pos? Ek twyfel.

“Julle mediamense het seker ’n nuwe woordeboek gekry, want ek het altyd gedink dat ‘swak spelpeil’ eers ná drie of vier wedstryde ’n kwessie is; en nie ná ’n enkele kragmeting nie.”

Die omstrede Farrell was verlede jaar ook in die moeilikheid toe hy in die kleure van Saracens die jong Charlie Atkinson met sy arm disnis geloop het.

Die duikslag het meer gepas in die rofstoeiwêreld as op ’n rugbyveld gelyk en die WWE-ster John Bradshaw Layfield het juis kort ná die voorval op Twitter gesê dat Farrell met ope arms in die WWE verwelkom sou word.

Hoewel die media destyds ook bloed geruik het, het ’n tugkomitee hom vir slegs sewe wedstryde geskors.

Mark McCall (Saracens se direkteur van rugby), Jones en die stigters van ’n liefdadigheidsorganisasie met wie Farrell nou bande het, het egter in die Engelse kaptein se guns getuig.

Hul getuigskrifte van Farrell se goeie gedrag het ’n reuserol gespeel in sy skorsing wat met vyf wedstryde verminder is.

“Dit is deur die Engelse rugby-unie, die speler en die tugkomitee aanvaar dat die oortreding eerder roekeloos as opsetlik was,” het die tugkomitee in ’n verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Robert

Dis Eddie Jones vir jou. Nooit op sy bek geval nie. Altyd aanvallend wanneer hy met die rug teen die muur staan. Owen Farrell is enig in sy soort en moes al baie meer pak slae gekry het deur sy gevaarlike spel.

Baardman

Farrell is ‘n agterbakse speler. Swak maniere ook. Kyk maar hoe het hy opgetree na die wereldbeker.

MakersMark

Ou Eddie raak nou net so arrogant as sy kaptein. En Farrel is seker die mees arrogante en “overrated” speler in wêreldrugby.