Jones vaar uit oor ‘negatiwiteit’ oor Wallabies

Eddie Jones (Foto: David GRAY/AFP)

Wallaby-afrigter Eddie Jones het Donderdag tydens sy span se vertrek na die Wêreldbekertoernooi behoorlik uitgevaar oor “al die negatiwiteit” oor die span.

Die wankelrige Australiese span is op pad na Frankryk met vier agtereenvolgende nederlae sedert die voormalige Engelse baas oorgeneem het.

Jones het verlede week ʼn redelike onervare span aangewys, met veterane Michael Hooper en Quade Cooper wat weggelaat is en Will Skelton wat as kaptein aangewys is.

Jones is vasbeslote dat daar ’n generasiewisseling moet plaasvind en het nie teruggehou toe hy by die lughawe in Sydney gepeper is met vrae oor sy span se kanse nie.

“Ek kan nie al die negatiwiteit hier glo nie,” het hy gesê. “Ek weet wat fout is met Australiese rugby en ’n deel van julle ouens is die probleem, want julle is so vrek negatief oor alles.

“Ons is op pad Wêreldbeker toe en julle dink ons kan nie wen nie, julle dink die keuringsproses is sleg omdat sommige spelers nie kan speel nie. So ek vra om verskoning daarvoor.

“Ons sal daarheen gaan en ons bes doen. As julle niks positiefs te sê het nie, moenie vra nie.”

Cooper, wat volgens verwagting eerste keuse vir losskakel sou wees, het glo geweier om Jones se oproepe te beantwoord.

“Ek is teleurgesteld dat die spelers ontsteld is, maar al wat ek kan doen, is om hulle te bel. As hulle nie die telefoonoproep neem nie, kan jy nie met hulle praat nie,” het hy gesê. “Wat wil jy hê moet ek doen? Sê my. Hoekom dan aanhou vra daaroor?”

Australië sal sy Wêreldbeker-veldtog op 9 September teen Georgië in Parys afskop voordat hulle Fidji, Wallis en Portugal in Poel C teëkom.

Slegs agt spelers in die 33-tal het al voorheen by ’n Wêreldbeker gespeel. Maar Jones hou vol dit is die “regte balans van energie en entoesiasme”.

“Ons het jeugdigheid aan ons kant, ons is gereed om te gaan,” het hy gesê.

“Nie een van julle dink ons kan iets goeds doen nie, en dit is reg so. Die uitdaging vir ons as ’n groep is om vir julle te wys dat ons kan, en vir onsself te wys dat ons kan.

“Dankie vir die slegste mediakonferensie wat ek nog in wêreldrugby gehad het. Dit is die ergste wat ek nog gesien het,” het hy gesê. “Julle behoort julself ʼn gesighou [uppercut] te gee,” het Jones aan joernaliste gesê voor hy die mediakonferensie verlaat het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.