Jones vaar uit teen joernaliste

Eddie Jones. Foto: Neil Hall/AFP.

Eddie Jones is nie op sy bek geval nie en skram nooit van ’n mondelingse konfrontasie weg nie. Hy moes immers al telkemale vir die Rose se beleërde kaptein, Owen Farrell, in die bresse tree.

Nou het Engeland se hoofafrigter die media daarvan beskuldig dat hulle “gif” oor sy span skryf.

Dít kom nadat die Rose se nederlae teen Skotland en Wallis grootskaalse kritiek ontlok het. Tog is Jones-hulle vir verlede week se spogsege teen Frankryk geloof en sommige joernaliste het gesê dat dit Engeland se beste vertoning is sedert die halfeindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi teen die All Blacks.

Vir die komende kragmeting teen Ierland het Jones net een verandering gemaak: Elliot Daly is terug op buitesenter.

Die 28-jarige agterspeler, wat normaalweg vir Saracens in plaaslike kompetisies uitdraf, sukkel ietwat met sy spelpeil. Toe joernaliste vir Jones oor die buitesenter se selfvertroue pols, het hy omtrent begin vuur spoeg.

“Ek het nog nooit gesien hoe selfvertroue by die deur instap nie, dus weet ek nie eintlik wat selfvertroue behels nie,” het Jones gesê.

“Trouens dink ek nie dat daar iets soos selfvertroue is nie; jou kop is óf reg óf verkeerd aangeskroef. Verkeerde gedagtes begin by spelers insluip wanneer hulle die gif ter harte neem wat deur die media geskryf word.

“Dit is rottegif wat in die spelers se koppe beland en ons moet dan weer ons bes doen om dit uit hulle gedagtes te kry. Dit hou my baie besig.”

Engeland is tans vierde op die Sesnasies-punteleer na daardie twee nederlae in die toernooi. Wallis is tot dusver onoorwonne in die reeks.

CJ Stander sal die no. 6-trui vir die Iere dra.

Engeland: Max Malins (heelagter), Anthony Watson (regtervleuel), Elliot Daly (buitesenter), Owen Farrell (binnesenter en kaptein), John May (linkervleuel), George Ford (losskakel), Ben Youngs (skrumskakel), Billy Vunipola (agtsteman), Tom Curry (flank), Mark Wilson (flank), Charlie Ewels (slot), Maro Itoje (slot), Kyle Sinckler (stut), Luke Cowan-Dickie (haker) en Mako Vunipola (stut).

Ierland: Hugo Keenan (heelagter), Keith Earls (regtervleuel), Robbie Henshaw (buitesenter), Bundee Aki (binnesenter), Jacob Stockdale (linkervleuel), Jonathan Sexton (losskakel en kaptein), Conor Murray (skrumskakel), Jack Conan (agtsteman), Josh van der Flier (flank), CJ Stander (flank), Tadgh Beirne (slot), Iain Henderson (slot), Tadgh Furlong (stut), Rob Herring (haker) en Dave Kilcoyne (stut).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos10 ·

Eddie, dis die einste media wat sorg dat jy werk het, want sien hulle betaal baie geld aan rugby om die sport te kan uitsaai. ek jy kry mos ook ‘n salaris van rugby af.
As die media nie die waarheid praat nie, kan jy hulle mos maar gaan aangee, of jou spelers belet om die gif te lees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.