Jong Blitsbokke se vertonings en sukses verstom

Die Blitsbok-penkoppe het Sondag weliswaar die eindstryd misgeloop,  maar die brons medalje verower toe hulle Nieu-Seeland met 29-7 om die derde plek geklop het.

Kenners en die media is verstom oor wat die jong span bereik het en die soort sewesrugby wat hulle opgedis het – en die eer kom Neil Powell, Marius Schoeman en hulle adjudante by die sewesakademie toe.

Met die 17 wedstrydpunte wat hulle sodoende verdien het, het Suid-Afrika met hulle 126 punte voorgebly op die reekspunteleer terwyl Fidji se oorwinning hulle drie punte agter die Blitse geplaas het met nog net drie toernooie, in Singapoer, Londen en Parys, wat oorbly.

Die kwarteind in die oggend teen Spanje was ʼn effense antiklimaks omdat die Europeërs, onervare maar goed afgerig, eenvoudig te min besit gehad het om self aan te val en geen raad gehad het teen die lyne wat die Bokke gehardloop het en hulle goedberekende aflaaie na die man in die gaping nie.

Die Blitsbokke het met 38-5 gewen en toe teen Fidji in die halfeind te staan gekom.

ʼn Mens skud net jou kop in verwondering oor die wyse waarop die Fidjiane, wat Kenia in die eindstryd met 24-12 verslaan het, geduik en gefrustreer is deur die veel ligter Blitsbokke.

Op die ou end was dit twee heel haalbare doelskoppe, een teen die regoppaal, wat hier teen die einde van die wedstryd vir die Blitse tussen  ʼn plek in die eindstryd en die uiteindelike derde plek gemaak het.

Die volgende toernooi is op 28 en 29 April in Singapoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Valerie ·

Die media is eenogig. ‘n Paar weke gelede was die span die een om te klop die jaar, maar wanneer laas het hulle ‘n toernooi gewen? En dis nie eers rugby nie; dis net so irriterend soos die 20/20 Haas Das krieket. Dis die tipe game wat jy speel op Margate se strand om ons vrouens te probeer beindruk . . . en dit werk nie. Nou ewe skielik verstom hulle almal. Gaap. Ek ken niemand wat deur die klomp verstom word nie want ons kyk nie die grap nie.

Henk ·

Haha dankie V, daar lag ek nou lekker. Ek is soos jy nie die grootste aanhanger van hierdie weergawe van Rugby nie. Tog, het hy ook sy oomblike en die jong mense is dol daar oor.

Frans C ·

Wel dit mag vir jou ‘n grap wees,maar ek is seker as jy in ‘n wedstryd teen die manne van Fiji betrokke was, sal jy die grap van die eeu wees en nooit jou mond weer oopmaak nie.
Hoed af vir die jong klomp,skitterende vertoning.

Theresa ·

Praat vir jou self Valerie. Ek, en gesin, geniet 7’s rugby (en 20/20 krieket). Ons is baie beindruk deur die jong spelers.

LOL ·

Ek geniet 5 dae toets krieket en 20/20. Ek geniet 7-man rugby en 15-man rugby. Miskien is daar iets fout met my volgens Valerie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.