Jong Bokkies uit Junior WB

20130618-203622.jpgDie Jong Bokkies het net hulself te blameer vir hul nederlaag vanaand in Frankryk teen die Junior Drake van Wallis in die IRB se Junior Wêreldbeker.

Hul swak hantering, powere verdediging, oorgretigheid en skrumtekortkominge het veroorsaak dat hulle met 18-17 die spit afgebyt het teen ‘n begeesterde Walliese span. Die halftydtelling was 7-6 in die guns van Suid-Afrika.

Die Bokkies was 17-11 voor met minder as twee minute oor toe die Walliese heelagter, Jordan Williams, ‘n slim dwarsskopie gegee het wat deur Ashley Evans gevang is vir ‘n drie. Die losskakel, Sam Davies, het die verdoelskop foutloos oorgeklits om sy span na die eindstryd te stuur. Wallis sal Sondag teen Nieu-Seeland of Engeland te staan kom.

Die Bokkies het vroeg in die wedstryd weer, nes die geval was teen Frankryk laas week, gesukkel met hul skrums en onnodige strafskoppe afgestaan. Davies het dit ontgin en die telling 6-0 gemaak.

Kort voor rustyd het die Bokkie-slot Irné Herbst vanaf die lynstaan bykans onbestrede deurgedraf vir sy span en die wedstryd se eerste drie. Handré Pollard, wat hierdie jaar een van die Varsitybeker se blinkste sterre was, het die twee punte bygevoeg. Pollard het vanaand egter net met 50% van sy skoppe pale toe geslaag en in ’n taai stryd soos hierdie sou dit stellig ’n groot verskil aan die uitslag gemaak het.

Die Walliese flank en kaptein, Ellis Jenkins, het in die tweede helfte vir sy span se eerste drie oorgeduik met ‘n swerm Bok-verdedigers om hom en op hom. Daarna het die Jong Bokkies se vuurvreter-losvoorspeler Kwagga Smith uitmuntend afgerond nadat die Bokkies die bal in die agterlyn afgestuur het om sy span weer te laat voorloop.

Menigte toeskouers (hierdie skrywer inkluis) het gedink die skrif is aan die muur toe Pollard met slegs sy derde uit ses pogings pale toe geslaag het om die Bokkies ’n gemaklike, dog nie onoorkomlik nie, voorsprong te besorg. Dawie Theron sal helaas sy huiswerk moet gaan doen voor volgende jaar se kampioenskap want hierdie poging was klaarblyklik nie goed genoeg nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.