Jong Ivan die held na Bulle se groot skrik

RG Snyman was uitmuntend in die lynstane en die vaste los (Foto GB Jordaan)

RG Snyman was uitmuntend in die lynstane en die vaste los (Foto GB Jordaan)

Dit was opwindend, en dit was met rukke baie lekker rugby, maar die Blou Bulle sal hulself afvra waarom hulle eers twee minute voor die einde die halfeindstryd teen die Westelike Provinsie op Loftus kon beklink, 36-30.

Die tuisspan se held was die jong Ivan van Zyl wat sewe minute voor die einde vir Rudy Paige vervang het. Hy was drie minute op die veld, toe pypkan hy die WP se manne om die losskrum en van toe af was die Bulle weer op die aanval met fase na fase wat hulle, soos vroeër, egter nie kon afrond nie.

Maar die druk het getel, en met minder as 90 sekondes oor, het einste Van Zyl ʼn maklike twee meter doellyn toe gehad vir die wenpunte toe die bal uitkom.

Net voor rustyd was die Bulle 16-7 voor. Nege minute na die omdraaislag was hulle 19-20 agter.

Die Bulle was nog 19-13 voor en kom toe vorendag met seker die beste beweging in die wedstryd – van die een kant van die veld na die ander met goeie hanteerwerk en ondersteuning.

Ironies genoeg kom die keerpunt toe met die binne-aangee van Tian Schoeman wat die WP-kaptein Chris van Zyl onderskep en die deur die Blitsbok Werner Kok afgerond word. Die WP was 20-19 voor

Met hul  sterte in die lug was die WP skielik meer mededingend en was dit of die tuisspan se selfvertroue ʼn knou weg het.

Die duikslae en doodvatte in die wedstryd het reg laat geskied aan die twee ou vyande se ‘veldslae’ van die verlede. Die algemene gehalte was baie goed, met jonges soos RG Snyman, Roelof Smit en die meer ervare Burger Odendaal wat die oog gevang het.

Die Bulle was die beste daaraan toe i die skrum en Liso Gqoboko is aan ’t kom aan die loskopkant. Hy het saam met Smit talle balle by die afbreekpunte omgekeer.

Robert du Preez was koelkop op losskakel, en Dewaldt Duvenage het sy spel goed afgewissel, maar die twee agterlyne het teen vlakstaande teenstand wat albei drukverdediging toegepas het, nie sommer oor die voordeellyn gekom nie.

Hier het die Bulle, wat dikwels met hulle ‘tweede-linie’ agterlyn probeer het, die gevaarlikste gelyk hoewel die WP soms in algemene spel gevaarsituasies geskep het.

Albei spanne het heelwat gehardloop, maar daar is – veral deur die Bulle – miskien nog te veel van die voorspelers langs die afbreekpunte gebruik gemaak om oor die voordeellyn te dryf. As dit dan so dikwels gedoen móét word, sal ʼn bietjie afwisseling met spelers wat verder van die losskrum staan ʼn nuwe dimensie aan die taktiek verleen.

Schoeman (agt uit agt) en Du Preez (ses uit ses) het tussen hulle nie ʼn enkele keer misgekorrel pale toe nie.

Soos op die Vrystaatstadion (23 912) was daar op Loftus ook meer as 20 000 toeskouers. Die eindstryd behoort Saterdag op ʼn volgepakte Vrystaatstadion gespeel te word.

Puntemakers –

Blou Bulle 36 (16): Drieë: Travis Ismaiel, Jason Jenkins, Tian van Zyl. Doelskoppe: Tian  Schoeman 3. Strafdoele: Schoeman 5.
Westelike Provinsie 30 (10): Drieë: Nizaam Carr, Werner Kok, Jan de Klerk.   Doelskoppe: Robert du Preez 3. Strafdoele: Du Preez 3

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frans C ·

Beste wedstryd van die naweek. Die WP het vriend en vyand verras en dit amper gemaak.
Blou Bulle sal egter nog beter moet speel as hul die Cheetahs wil klop.

Stephen ·

Die wen oor die WP is beter as ‘n springbok wen oor die All Blacks

Henry ·

Bulle moes veel makliker gewen het.
Terwyl die Bulle op pad doellyn toe was, is Tian Schoeman se lang aangee onderskep – 7 punte aan die WP.
Nie lank daarna nie het Schoeman die bal vanaf ‘n inskop op sy doellyn aangeslaan, soos Elton Jantjies – nog 7 punte aan die WP.
Gelukkig het Schoeman goed na die pale geskop en 21 punte aangeteken, teenoor die 14 wat hy aan die WP geskenk het.

Frans C ·

Noudat die stof gaan lê het en emosies bedaar het kan die WP vertoning in ‘n beter lig gesien word.Die WP het sonder sy Springbok slotpaar gespeel wat ‘n reuse verskil sou gemaak het.Hulle het nogtans goed in die opsig gevaar.

In die opsig is hul dus beter daaraan toe as die Leeus wat glad nie kompeterend in die opsig was nie. Waar die Leeus agterlangs gesukkel het was die WP agterlyn heel skaflik.

Dit wil dus voorkom dat die WP voor en agterlangs beter daaraan toe is as die Leeus en dus oor meer diepte beskik.

In dit is mi die probleem met Leeu en Cheetahrugby, die gebrek aan diepte.Die Leeus sonder hul Springbokke ,beseer of nie, was nie ‘n skaduwee van die span wat voorheen in aksie was nie.

Dieselfde kan egter van die Cheetahs gesê word, verwyder 7-8 uit die span en dit is nog net
‘n gewone rugbyspan.As Super 18 spanne werklik kompeterend moet wees moet daar soos
in NZ ‘n toewysing van spelers aan die super 18 spanne wees .
Gebeur dit nie gaan spanne weereens weens ‘n gebrek aan diepte en beserings halfpad uit die super 18 bus val en nog steeds moet staatmaak op ‘n konferensiestelsel wat Suid Afrikaanse en Ausie rugbykrag totaal skeef trek-soos die rugbykampioenskap weereens bewys het.

Wie gaan die toutrekkery wen -provinsiale rugby of nasionale rugby? Hoop lg want dit is tog al te naar om ‘n Bokkie te sien blêr- maak dit dan eerder ‘n verlepte protea.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.