Jong Rieko Ioane bo Savea vir toets teen Leeus gekies

Die Nieu-Seelandse afrigter Steve Hansen het sy veteraankaptein Kieran Read en die jong Rieko Ioane vir sy eerste opdrafkans gekies vir Saterdag se toets teen die Britse en Ierse Leeus op Edenpark.

Die enigste ander verandering aan die beginspan wat verlede Vrydag met 78-0 teen Samoa gewen het, is die terugkeer van die gesoute senter Ryan Crotty wat ʼn ribbesering gehad het.

Dit sal Read se eerste wedstryd wees sedert hy ses weke gelede sy duim in Crusaders se wedstryd teen die Cheetahs in Bloemfontein gebreek het en daar geopereer is.

♦  Ioane, wat verlede jaar as 19-jarige sy toetsbuiging van die bank af teen Italië gemaak en ʼn drie gedruk het, is in die plek van die ervare stoomrollervleuel Julian Savea gekies. Savea het in sy 53 toetse 46 drieë gedruk.

Die jong Ioane  het nie die krag van Savea nie maar het ʼn wonderlike aanvoeling vir die spel, is vinnig en weeg darem self ʼn stewige 103 kg.

Ioane het sy internasionale buiging as sewesspeler gemaak toe hy voorverlede jaar in Wellington twee drieë gedruk het toe die sewe-All Blacks die eindstryd teen Engeland gewen het.

Sy ouer broer Akira en albei sy ouers, Eddie en Sandra, het toetsrugby gespeel; Akira en Sandra vir Nieu-Seeland, en Eddie vir Samoa.

Die Leeus kondig hulle span ook Woensdagaand (SA tyd) aan.

All Blacks –

Ben Smith, Israel Dagg, Ryan Crotty, Sonny Bill Williams, Rieko Ioane, Beauden Barrett, Aaron Smith, Kieran Read (kapt.), Sam Cane, Jerome Kaino, Sam Whitelock, Brodie Retallick, Owen Franks, Codie Taylor, Joe Moody. Bank: Nathan Harris, Wyatt Crockett, Charlie Faumuina, Scott Barrett, Ardie Savea, TJ Perenara, Aaron Cruden/Lima Sopoaga, Anton Lienert-Brown.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans C ·

Die insluiting van Israel Dagg bo ander vleuels is vir my ‘n verrassing.Leeus kan dalk net meer
as net ‘n kans hê.

Pietman ·

Loane dalk beter om hoë balle uit die lug te vang. Iets waarmee Dagg naturlik goed is. barret gaan die vleuels voer met skop aangee weens die Leeus se opstorm taktiek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.