Jong Wessels sal ‘n towerstaf moet hê

Dave Wessels (Foto: Rugby WA)

Dave Wessels (Foto: Rugby WA)

Hoe jonk is oud genoeg?

Dave Wessels, `n 33-jarige boorling van die Wes-Kaap, is aangestel as afrigter van die Western Force nadat die gewese Wallaby-haker Michael Foley vroeër vanjaar die die trekpas gekry het.

Wessels was deeltyds in beheer, maar nou is dit sy taak om heeltyds die sukkelende Force uit die rugbymoeras te red. Die Force kon sedert 2006, toe hulle die eerste keer Superrugby gespeel het, net 50 van hul 150 wedstryde wen. Die span was verlede seisioen 15de op die puntelys en was vanjaar net twee keer aan die wenkant. Die beste was die Force gevaar het, was in 2007, toe hulle sewende (onder John Mitchell) geëindig het.

Wessels, wat in die Kaap gebore is, maar op St Stithians in Randburg op skool was, was in 2008 en 2009 die verdedigings-konsultant van die Stormers.

In sy eerste jaar het dit klopdisselboom (op die verdediging) gegaan, want die Stormers  het vyfde geëindig,  30 drieë in 13 wedstryde gedruk en net 21 afgestaan.

In 2009 het die Stormers `n swak tiende geëindig en het hulle slegs 28 drieë gedruk en 29 afgestaan. Ironies genoeg was die Springbok-afrigter, Allister Coetzee, albei jare die Stormers se agterlynafrigter.

Wessels was tussen 2009 en 2011 die Ikeys se hulpafrigter in die Varsitybeker-reeks, voordat Jake White hom na die Brumbies in Canberra gelok het. Die Brumbies het toe die minste punte van al die Australiese spanne afgestaan en dit was geen verassing nie dat die Force hom as senior hulparigter in 2013 aangestel het. Hy en Kevin Foote, nog ‘n oud-Ikey, was die Perth Spirit se hoofarigters in die 2014 in die Australiese provinsiale reeks en nou kry Wessels, as die jongste afrigter in Superrugby, sy groot kans.

Wessels is darem nie die jongste afrigter op senior vlak nie.

Die Kendal-klub in Cumbria in Engeland het die 23-jarige Chris Downham verlede seisoen as afrigter aangstel. Kendal het bo-aan die puntelys in die Noordwesliga (tweede liga) geëindig en mik nou na hoër louere. Volgens Downham is hy in beheer van `n amateurklub met  `n beroepsbenadering. Downham het darem vir Engeland se o.16- en o.18-spanne gespeel en dis hoekom hy soveel agting afdwing.

`n Jong afrigter kan baie bied, want hy is in voeling met die spel en weet presies hoe sy spelers dink. Maar die groot toets is hoe hy sal optree wanneer sy span, skande soos die Chiefs vanjaar, ontkleedansers vir hul jaareindfunksie reël en dinge dan handuit ruk?

Daar is darem vinnig opgetree teen die Force-skandemakers vroeër vanjaar in `n Bloemfonteinse hotel. In watter mate het Wessels die sweep geklap?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.