Jonges na Bokoefenkamp; maar wat is die plan met Reinach?


Ruan Ackermann – vir sy uitblinkerspel beloon. (Foto GB Jordaan).

Ruan Ackermann, flank van die Lions en Curwin Bosch, losskakel van die Sharks, is vir hulle blink spel in die Superreeks beloon en na die tweede Springbokoefenkamp genooi, terwyl die wenkbroue sal lig oor die uitnodiging aan Cobus Reinach.

Ackermann, Bosch, die Sharks se senter Lukhanyo Am en die Cheetahs se heelagter Clayton Blommetjies is van die opwindende nuwe geslag spelers wat die Springbok-afrigter, Allister Coetzee, na die oefenkamp genooi het wat van 2-4 April in Stellenbosch gehou sal word.

Bosch, die Cheetahs se Fred Zeilinga, Elton Jantjies en die beseerde Pat Lambie is die losskakels in die groep, terwyl Blommetjies en die Lions se Andries Coetzee die heelagters is, met Bosch wat natuurlik net so tuis in die laaste vesting is.

♦  Dit is egter ’n raaisel hoe Coetzee die keuse van Reinach regverdig. Ingevolge die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se nuwe kiesbeleid, wat van 1 Julie 2017 van krag is, mag oorsese gebaseerde spelers vanaf 1 Julie slegs vir die Springbokke oorweeg word indien hulle in 30 of meer toetse gespeel het.

Met die dat Reinach, wat slegs 10 toetse agter die blad het, hom na afloop van die Superrugby-reeks by Northampton Saints gaan aansluit, beteken dit hy kan slegs vir die drie tuistoetse teen Frankryk in Junie oorweeg word.

Pale Toe! het vroeër bespiegel dat Coetzee moontlik ’n versoek aan Saru kan rig om ’n uitsondering vir Reinach te maak, iets wat met sy uitnodiging na die oefenkamp al meer na ’n moontlikheid lyk.

Die weglating van die Lions se skrumskakel Faf de Klerk, wat verlede jaar ’n paar lou vertonings in die Boktrui gelewer het, versterk beslis die vermoede dat ’n uitsondering vir Reinach nie buite die kwessie is nie.

Word daar wel ’n uitsondering gemaak vir Reinach, sal dit nie net ’n presedent skep nie, maar ook ’n klug maak van besluite wat deur Saru geneem word.

Die ander skrumskakels in die groep is Shaun Venter van die Cheetahs en Jano Vermaak van die Stormers. Vermaak mag aan die verkeerde kant van 30 wees, maar hy speel tans nog uithalerrugby.

♦  Ook die keuse van verlede jaar se Wêreldrugby sewesspeler van die jaar, Seabelo Senatla, wat sover vanjaar vir die Stormers in die Superrugby-reeks uitblink, tesame met die Cheetahs se Raymond Rhule, wat self kookwater is, is verblydend.

Die uitnodiging aan die Sharks-flank Jean-Luc du Preez, wat vanjaar die veld vol speel, is ook welverdiend.

Spelers van die Bulls en die Kings is nie genooi nie, aangesien hulle in die tyd van die oefenkamp in oorsese bepalings betrokke is.

Onder die stutte is die insluiting van jongelinge soos die Cheetahs se Ox Nché en die Stormers se Wilco Louw, ’n bewys dat huidige spelpeil beloon word.

Coetzee het gesê dat spelers wat in die Superrugby-reeks uitstaan beslis oorweeg sal word vir die derde oefenkamp.

“Daar is etlike nuwe gesigte in die oefengroep wat konstant met hulle spelpeil die oog getref het,” het hy gesê.

Beseerdes soos Lambie, Uzair Cassim en Ruan Combrink is genooi, terwyl ander beseerdes soos Damien de Allende en Jean-Luc du Plessis, wat die eerste oefenkamp bygewoon het, nie nodig het om Stellenbosch toe te reis nie.

Franco Mostert, slot van die Lions wat binnekort pa word, is ook nie genooi nie.

Oefengroep –

Heelagters: Andries Coetzee, Clayton Blommetjies.
Vleuels: Ruan Combrinck, Dillyn Leyds, Seabelo Senatla, Lwazi Mvovo, Raymond Rhule, Kobus van Wyk.
Senters: Rohan Janse van Rensburg, Francois Venter, Lionel Mapoe, EW Viljoen, Lukhanyo Am.
Losskakels: Pat Lambie, Fred Zeilinga, Curwin Bosch, Elton Jantjies.
Skrumskakels: Jano Vermaak, Shaun Venter, Cobus Reinach.
Agstemanne: Warren Whiteley, Tera Mtembu.
Flanke: Jaco Kriel, Teboho Mohoje, Uzair Cassim, Ruan Ackermann, Jean-Luc du Preez, Siya Kolisi.
Slotte: Eben Etzebeth, Ruan Botha, Pieter-Steph du Toit, Etienne Oosthuizen.
Stutte: Ox Nché, Wilco Louw, Frans Malherbe, Beast Mtawarira, Coenie Oosthuizen, Ruan Dreyer.
Hakers: Malcolm Marx, Bongi Mbonambi, Chiliboy Ralepelle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pietman ·

Sjoe dit lyk baie sleg. Bokke gaan weer sleg verloor die jaar.

Ronnie ·

Beast =has been
Oosthuizen=has been
Mostert = must be
Wat word van Akkers van Lions?
Wat van van Rensburg stormer stut?

Martin ·

As jy so kyk na al die leeus spellers in die groep kan daar dalk lug aan die ander kant van die tonel wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.