Jongste by Bulle, Leeus, Valke en SWD se ligas

Twee “nuwelinge” betwis die Blou Bulle se Carltoneindstryd; Raiders laat die Pukke les opsê; die Valke se halfeinders is bekend; en die voorbokke bly voor in die Suidwestelike Distrikte.

♦ Nie een van die spanne wat verlede jaar in die Blou Bulle se Carltoneindstryd gespeel het, is vanjaar weer daar nie. Sowel die 2016-kampioen, Centurion, as die naaswenner, die Naka Bulle, het in die halfeindronde in die stof gebyt.

Die Tukkies en Quins-Bobbies-rugby (QBR) meet Saterdag 5 Augustus in die eindstryd op Loftus Versfeld A om die beker kragte.

Naka se tweede en derde span speel in die ander eindstryde Donderdag 3 Augustus op Loftus C onderskeidelik teen die Fezelas (UP) en QBR.

Goue Leeus

♦ In die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU) het Raiders die NWU Pukke met 24-13 geklop, en met nog twee rondomtaliebeurte om af te handel, lyk dit reeds seker of die span van Industria die bond in die SA Rugby-unie (Saru) se reeks om die Goue Beker sal verteenwoordig.

Die jongste verrassing is deur Randfontein opgelewer, toe hy Wanderers met 64-38 die loef afgesteek het

Roodepoort het na sy verrassende sege teen Pirates teen Wits teleurgestel, toe die studente met 68-17 die botoon gevoer het.

Valke

♦ Die Valke se Peregrineliga stuur op ʼn spannende einde af nadat Brakpan, die verdedigende kampioen, en Vereeniging, verlede jaar se naaswenner die rondomtalie met ewe veel punte afgesluit het.

Die Panne het egter ʼn beter batige punteverskil en eindig sodoende boaan die leer.

Hulle speel dus teen die vierde geplaaste East Rand United (ERU) in die een halfeindstryd; met Vereeniging en Springs wat in die ander een teen mekaar te staan kom.

ERU het ʼn onbenydenswaardige taak nadat Brakpan hom juis Saterdag met 10-40 (rustyd 3-26) in die laaste reeks rondomtaliebotsings geklop het.

Colin Booysen, die spanbestuurder van ERU, se twee geel kaarte kort ná mekaar was die begin van sy span se einde.

“Die bonkige vleuel Jackie Jonkers was ERU se speler van die wedstryd. Hy het sy lyfie op die spel geplaas, soos ʼn tier verdedig, en Brakpan met sy systappe in die lug laat gryp.”

Cameron Lentoor het ERU se drie gedruk, en Andy Huysamen het met ʼn doelskop en ʼn strafdoel geslaag.

SWD

♦ In die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Premierliga gaan dit steeds voor die wind met die voorbokke.

Progress van George (eerste) het Maori’s, eweneens van George, met 26-20 geklop; Bridgton van Oudtshoorn (tweede) het Silver Stars (George) met 42-12 afgeransel; Evergreens van Pacaltsdorp (derde) het die NMMU se Georgekampus met 31-17 verslaan; en Barbarians van Mosselbaai (vierde) het Crusaders (George) met 30-24 die onderspit laat delf.

Barbarians se tweede en Groot-Brakrivier se derde span loop voor in hul afdelings.

In die Presidentsliga (Karoo) loop Prins Albert se eerste span en Willowmore se tweede voor; en wat die afdeling Kus betref, is George in albei gevalle die voorloper; en in Langeberg is dit Heidelberg wat albei afdelings oorheers.

Ander uitslae –

GLRU

PGU

Eerste spanne
UJ 33, Pirates 10.

Tweede spanne

Wits 52, Roodepoort 12; Randfontein 31, Wanderers 14; Raiders 29, Pukke 22; UJ 33, Pirates 14.

Derde spanne

Wits 65, Roodepoort 0; Randfontein 28, Wanderers 10; UJ 24, Pirates 5.

Onder 21-spanne

Wits 28, Roodepoort 0; Randfontein 38, Wanderers 10; NWU Pukke 43, Raiders 3; UJ 99, Pirates 5.

Onder 19-spanne

Wits 60, Roodepoort 0; Randfontein 21, Wanderers 21; Pukke 113, Raiders 0; UJ 71, Pirates 0.

Bailybeker

Eerste spanne

Germiston-Simmer 73, Soweto Eagles 0; Unie 48, Diggers 22; Johannesburg Polisie 25, Alberton 21.

Tweede spanne

Polisie 17, Alberton 15; Unie 12, Diggers 7; Simmer 39, Soweto 24.

Derde spanne

Polisie 66, Alberton 8; Unie 45, Diggers 44; Simmer 28, Soweto 0.

Onder 21-spanne

Alberton 19, Polisie 5; Unie 36, Diggers 7; Simmer 56, Soweto 13.

Onder 19-spanne

Alberton 50, Polisie 0; Unie 31, Diggers 10; Simmer 26, Soweto 17.

SGU

Eerste spanne

Eldoronians 28, Kagiso 0; Southern Knights 28, Tshuma Stingers 13.

Onder 19-spanne

Eldoronians 28, Kagiso 0; Southern Knights 14, Tshuma Stingers 12.

Valke

Peregrineliga

Tweede spanne

ERU 19, Brakpan 17.

Onder 21-spanne

ERU 40, Brakpan 10.

SWD

Premierliga

Blanco 17, Groot-Brakrivier 17.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.