Jonny meen Joel is een van die bestes

Joel Stransky. Argieffoto.

Jonny Wilkinson, die man wat ’n reuserol in die Engelse se Wêreldbeker-sukses in 2003 vertolk het, sê Suid-Afrika se Joel Stransky tel onder die vyf beste losskakels ooit.

Net soos Wilkinson het Stransky met ’n stervertoning in ’n Wêreldbeker-eindstryd vorendag gekom toe sy suksesvolle skepskoppogings gehelp het dat die Springbokke die Webb Ellis-trofee vir die eerste keer in 1995 omhoog gehou het.

Hy het ook in die Bokke se openingswedstryd van die toernooi teen die Wallabies amok gemaak toe hy die eerste Suid-Afrikaner geword het om nie net ’n drie te druk nie, maar ook ’n strafskop-, doelskop- en skepskoppoging oor die dwarslat in dieselfde wedstryd te jaag.

Stransky het uiteindelik 22 wedstryde vir die Springbokke gespeel waarin hy 240 punte aangeteken het.

Volgens Wilkinson is ’n losskakel inderdaad die generaal wat die span se spel dikteer.

“’n Span het ’n betroubare speler nodig wat leiding van die begin van die wedstryd regdeur tot die laaste paar sekondes van die kragmeting neem. Dit is juis in die doodsnikke wanneer ’n losskakel se vertoning deurslaggewend is,” het Wilkinson gesê.

En volgens dié Britse held is die volgende no. 10-spelers goud vir hul span werd:

Michael Lynagh (Australië), Dan Carter (Nieu-Seeland), Joel Stransky (Suid-Afrika), Stephan Larkam (Australië) en Grant Fox (Nieu-Seeland).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rupert Ashford ·

Ai Jonny, hoewel Stransky baie goed was en die generaal was in 1995, is jy duidelik te jonk om die WARE GENERAAL te gesien het. Gaan kyk bietjie die 1981 Springbok toer na Nieu Zeeland om die persoon in aksie te sien. Nasty Boots… En het ons “nie Noord Transvalers” hom nie gehaat hier by die huis wanneer hy ons provinsiale spanne voos geskop het nie, maar boeta wanneer hy ‘n groen trui gedra het was dit ‘n ander storie…;-)

Johan David ·

Middag mense……….wie was “nasty boots” gewees?

Chris ·

Stem saam. Naas Botha was nie ‘n “gewilde provinsiale ” speler nie, maar dit was ‘n ander storie wanneer hy die Springbok trui aangehad het. Hy was geniaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.