‘Joost se siekte’ tref Skotse lynstaanyster

Doddie Weir stamp ʼn teenstander in sy speeldae af. (Foto: Twitter)

Hy verkwalik rugby geensins vir die feit dat hy motorneuronsiekte (MNS) opgedoen het nie.

Só het die gewese Skotse lynstaanyster, Doddie Weir, Dinsdag in ʼn onderhoud met die BBC gesê.

Weir is twee maande gelede gediagnoseer met dié siekte, dieselfde wat die Springbok-legende Joost van der Westhuizen se lewe in Februarie vanjaar geëis het.

Daar bestaan nog geen geneesmiddel teen MNS nie.

Party navorsers meen herhaalde kopbeserings, soos in rugby voorkom, kan die siekte veroorsaak, maar Weir glo nie dit hou verband nie. Hy meen meer navorsing in dié opsig is nodig.

Hy het in die onderhoud gesê Van der Westhuisen se hantering van die siekte dien vir hom (Weir) as inspirasie, veral die wyse waarop Joost die waarde van positiewe denke beklemtoon het.

Weir het van 1990 tot 2000 in 61 toetse vir Skotland gespeel, en vier toetsdrieë gedruk.

Slegs drie van sy toetse was teen Suid-Afrika, almal op Murrayfield, Edinburgh. Van der Westhuizen was in al drie gevalle die Springbok-skrumskakel, die laaste keer, by 1999 se Wêreldbeker-toernooi, ook die Bok-kaptein.

Op toer saam met Martin Johnson se Britse en Ierse Leeus in 1997 in Suid-Afrika, het Weir ʼn ernstige kniebesering in ʼn omstrede trapvoorval in die vierde toerwedstryd teen die Pumas opgedoen, en die toetsreeks misgeloop. Die Britte het die reeks met 2-1 gewen.

Die rateltaaie langeraad was eweneens ʼn lid van die Skotse span wat in die kwarteindronde van 1995 se Wêreldbekertoernooi op Loftus Versfeld deur die All Blacks uitgeskakel is. Hy het sy land insgelyks in die RWB-toernooie van 1991 en 1999 verteenwoordig.

Een van die kwinkslae waarvoor die legendariese kommentator Bill McLaren onthou word, is toe hy beskryf het hoe die 1,98 m lange Weir “voortstorm soos ʼn mal kameelperd”.

Van die veld af het Weir die oog gevang (en doen hy dit steeds) met sy voorliefde om pakke van Skotse wolgeruit te dra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.