Jordie Barrett beland onder die mes

Dis darem baie lekker vir ʼn rugbyspan wanneer sy spelerspens byna nooit leeg raak nie.

Jordie Barrett, die 20-jarige heelagter van die Hurricanes en All Blacks, se seisoen is op die ashoop nadat hy in die onlangse halfeindstryd van die Superrugbyreeks teen die Lions sy skouer beseer het en ʼn operasie moet ondergaan.

Barrett, die jongste van die drie Barrett-broers wat in die Al Blacks se groep vir die rugbykampioenskap is, sal sowat ses maande langs die kantlyn wees.

Onthou ook dat Ben Smith, die voorkeurkeuse as heelagter,  ná die eerste twee toetse in die rugbykampioenskap ʼn ruskans van ses maande gegun word om hom in watte toe te draai om sy loopbaan te verleng.

Kommer in die Nieu-Seelandse kamp?

Nee, daar is geen kommer vir die komende toets teen die Wallabies in Sydney nie, want daar is op David Havili, 22,  die vlugvoetige heelagter van die Crusaders, teruggeval.

Havili is die man wie se voete deur Kwagga Smith in die eindstryd van die Superrugby-eindstryd op Ellispark onder hom uitgelig is. Hoewel hy aan die kleinerige kant is (1.84m en 88 kg) is hy ʼn stewige verdediger, ʼn goeie teenaanvaller en is sy taktiese skopwerk ook  van die boonste rak. Hy behoort dus sonder probleme in te skakel.

Dan is daar nog Damian McKenzie, Israel Dagg en Nehe Milner-Skudder, wat almal reeds in die groep is, om op terug te val as die nood sou druk.

Een probleem is dat die All Blacks se voorkeurskopper op die operasietafel gaan beland.

Nou is die druk vierkantig op Beauden Barrett (en McKenzie) om raak te korrel, want Aaron Cruden, wat binnekort na Frankryk verhuis, is nie in die groep nie vanweë die Nieu-Seelanders se beleid om nie buitelandse spelers te oorweeg nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marita ·

MM, hoekom is daar nog geen beriggewing op julle app oor Victor Matfield se aanstelling as voorspelerafrigter by die Leeus nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.