JP Pietersen opgeroep in Pienaar se plek

JP Pietersen (Foto: abc.net.au)

JP Pietersen (Foto: abc.net.au)

Die ervare Springbok-driekwart JP Pietersen is opgeroep om die beseerde Bok-skrumskakel Ruan Pienaar in die Springbokgroep te vervang.

Pienaar het Saterdag in die toets teen die All Blacks in Wellington `n mediale kruisligament in sy knie beseer en sal nie in die laaste twee wedstryde van die Rugbykampioenskap kan speel nie. Die erns van die besering sal eers na Maandag se skandering bepaal kan word.

Pietersen, wat deel van die toetsspan in die inkomende toetse in Junie was toe hy buitesenter gespeel het, is die afgelope agt jaar al deel van die toetsspan.

Hy sal hom Sondagaand in Kaapstad by die span aansluit wanneer hul begin met die voorbereiding vir die toets op 27 September teen Australië op Nuweland.

Die Springbokafrigter het gesê die keuse het op Pietersen geval omdat daar gevoel is `n buite-agterspeler sal van meer waarde wees. Die span het in Francois Hougaard en Cobus Reinach twee skrumskakels.

“JP was die hele tyd deel van ons planne,” het Meyer bygevoeg. Pietersen was egter tot nou toe nie vir die Springbokke beskikbaar nie vanweë sy verpligtinge in Japan.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.