Juan opgeroep om Bok-krisisse te besweer

Juan Smith (foto: smh.com.aus)

Juan Smith (foto: smh.com.aus)

Behalwe Victor Matfield se besering is Jean de Villiers ook nog nie fiks verklaar vir die toets teen Argentinië nie. Intussen is Juan Smith vir die oefengroep opgeroep. Dit is ook moontlik dat Matfield glad nie in die Rugbykampioenskap sal kan speel nie.

De Villiers moes lank weens ‘n kniebesering uitsit en dis interessant dat hy ook nie verlof gegee is om – soos Frans Malherbe en Eben Etzebeth – Vrydag vir die WP teen die OP te speel nie.

As hy nie die groenlig kry vir die Argentynse toets op 16 Augustus nie, laat dit die Springbokke met ‘n leierskrisis aangesien Fourie du Preez ook beseer is en Schalk Burger in Japan speel. Heyneke Meyer sal dan sy vyfde leierskeuse moet inspan en besluit tussen Bismarck du Plessis en Adriaan Basson as haker en kaptein.

Juan Smith sal hom uit Frankryk in Matfield se plek by die groep aansluit omdat hy flank en ook slot kan speel. Hy het voorheen slot gespeel en was slot in die span wat die Wêreldbeker vir o.21’s gewen het.

“Ek het verskeie kere met hom gesels en hy is heel bereid om weer slot te speel. Ons losvoorspelers het ook reeds baie gespeel en hy kan goeie dekking aan die kant van die skrum verleen,” het Heyneke Meyer gesê.

“Juan is ook baie goed in die lynstane en beskik oor ondervinding en leierskap. Ons wou hom al in Junie betrek het want ek wou regtig met hom werk, maar hy was nie 100% fiks nie en het gevra om nie oorweeg te word nie.”

Die Vrystaatse Springbok in 69 toetse en sy Franse span (Toulon) het onlangs die Franse Top14-liga en die Heinekenbeker gewen. Hy sal hom Donderdag by die groep aansluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.