Julian Savea verpas die All Black-bus

’n Jaar of wat gelede het die Nieu-Seelanders nog na Julian Savea as die tweede Jomu Lomu verwys … nou kry hy nie meer plek in die All Blacks se span nie.

Steve Hansen en sy mede-keurders het Maandag verras toe hulle Savea, wat as ‘Die Bus’ bekend staan vir sy vermoë om oor teenstanders te stoomroller, weggelaat het uit die groep van 33 spelers vir die Rugbykampioenskap, wat aanstaande Saterdag met die kragmeting met Australië in Sydney afskop.

Savea, wat ook nie die Hurricanes se opdrafspan vir die halfeindronde van die Superreeks teen die Lions kon haal nie, was voorheen ook uit die All Blacks se span weggelaat weens ’n gebrek aan goeie peil en fiksheid, maar hy het hom reggeruk en sy plek teruggekry.

Hansen het dit beklemtoon dat Savea, wat 46 drieë in 54 toetse gedruk het, en die Crusaders se baljagter-flank, Matt Todd, die ongelukkiges is.

Ek het altyd my bedenkinge oor die lofsange aan Savea gehad, want dit was verregaande om hom met Lomu te vergelyk. Was hy onstuitbaar wanneer hy aan die bal geraak het en het die All Blacks hul spelpatroon om hom laat draai? Nee.

Hy was bloot een van daardie monstervleuels wat goed kon afrond.

Nehe Milner-Skudder, die vlugvoetige veelsydige agterspeler van die Hurricanes met die aftrap na links en regs, sal na alle waarskynlik Savea se skoene volstaan.

Hoe het hulle nou weer in die ou dae gesê? Breinkrag teenoor spierkrag.

Daar is nie eintlik ooglopende swakplekke in die All Blacks se groep nie en ook nie veel ander verrassings nie, hoewel die stutte Nepo Laulala (Chiefs) en Ofa Tu’ungafasi (Blues) nie alom bekend is nie.

Drie spelers, Aaron Cruden, Malakai Fekitoa en Charlie Faumuina, wat groener weivelde oorsee gaan soek, is weens die All Blacks se beleid oor die kies van oorsese spelers, nie oorweeg nie.

Kan die Bokke hulle klop?

Kom ons volstaan met die antwoord: hoe lank is ’n stuk tou?

Hansen het ook gesê dat van die senior spelers nie in die groep sal wees wat teen die Argentynse Poemas in Buenos Aires sal speel nie. Dit is ’n waagstuk, maar wys net weer watter diepte daar in Nieu-Seelandse rugby is.

Die All Blacks-groep –

Agterspelers

Ben Smith, Jordie Barrett, Israel Dagg, Nehe Milner-Skudder, Waisake Naholo, Rieko Ioane, Ryan Crotty, Anton Lienert-Brown, Sonny Bill Williams, Ngani Laumape, Beauden Barrett, Lima Sopoaga, Damian McKenzie, Aaron Smith, TJ Perenara, Tawera Kerr-Barlow

Voorspelers

Kieran Read (kaptein), Liam Squire, Jerome Kaino, Sam Cane, Ardie Savea, Vaea Fifita, Luke Romano, Sam Whitelock, Brodie Retallick, Scott Barrett, Owen Franks, Nepo Laulala, Ofa Tu’ungafasi, Wyatt Crockett, Joe Moody, Dane Coles, Codie Taylor, Nathan Harris

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico K ·

Ek moet sê dat Matt Todd my in Saterdag se wedstryd beindruk het hoe hy kompeteer het om die losbal. Die All Blacks het duidelik diepte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.