Junie-toetse: Pieter-Steph dra bal meeste, Bongi gooi beste in

Pieter-Steph du Toit – uitblinker (Foto: sarugby.co.za)

Die afgelope toetsreekse waaraan ondermeer die vier lande van Sanzaar deelgeneem het wat in Augustus mekaar in die Rugbykampioenskap pak, het ʼn paar interessante syfers opgelewer.

Natuurlik is statistiek nie die allerantwoord nie, en ook bly rugby in die eerste plek ʼn spansport waar individuele prestasies ook spanverwant is.

ʼn Indrukwekkende syfer is nietemin dié van Bongi Mbonambi se ingooiwerk by die lynstane.

Volgens Sanzaar se amptelike statistiek was Mbonambi die enigste haker in al die Junietoetse waaraan die vlak een-lande ‒ die Springbokke, Engeland, die Poemas, Wallis, die All Blacks, Skotland, Frankryk, die Wallabies en Ierland ‒ deelgeneem het wat tien of meer keer by die lynstaan ingegooi het en sy springers elke keer gevind het. Hy het 22 keer ingegooi.

♦ Op die aanval het S’bu Nkosi ná Rieko Ioane se nege en drie ander spelers met agt breekslae die beste met sy sewe skoon breekslae gevaar.

Pieter-Steph du Toit het die bal die meeste kere van al die spelers gedra (42) en Owen Farrell, senter en kaptein van Engeland, was met sy 38 punte die voorste puntemaker terwyl Ioane se vyf drieë in die drie toetse teen Frankryk die meeste was.

Engeland se twee vleuels, Johnny May (265 meter) en Mike Brown (216 meter), het weens die swak Springbokverdediging aan die begin van die eerste twee toetse onderskeidelik die derde en vyfde verste met die bal genael met Ioane se 381 meter die meeste.

♦ Met die keerwerk het dit by die Springbokke ook goed gegaan.

Franco Mostert het in sy drie toetse 40 duikslae uitgevoer. Dit is gelyk die vyfde meeste in al die Junietoetse. Duane Vermeulen is gelyk vierde met die vier balle wat hy in die reeks omgekeer het.

RG Snyman (twee in drie toetse) en Marvin Orie (twee in een toets) het die meeste balle van lynstaaningooie deur die teenstanders vir die Bokke gewen.

♦ Ioane, wat die meeste drieë gedruk het, die tweede meeste teenstanders geskop het (15 teenoor May se 16), die balle die verste gedra het (381 meter) en die meeste breekslae gemaak het (nege), was ongetwyfeld die gevaarlikste aanvallende speler in die toetse.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.