Junior Bokke byt voorlangs vas, druk ses keer in goeie sege

Damian Willemse wys sy vreugde na die Junior Bokke gedruk het. (Foto: @twitter Junior Springboks)

Dit was stukke beter, veral met die bal in die hand, toe die Junior Springbokke Sondag in Tbilisi die tuisspan Georgië met 38-14 geklop het.

Daar is egter een ding wat seker is: hulle wéét hulle was in ʼn klipharde stryd.

Die Junior Springbokke is met hulle bonuspunt vir die ses drieë teen twee nou een punt voor in hulle groep nadat Frankryk vir Argentinië met ʼn enkele punt, 26-25, geklop het sonder om ʼn bonuspunt te behaal.

Argentinië is duidelik nie ʼn maklike lotjie nie, maar as die Bokke Donderdag teen hulle wen moet dit ver genoeg wees om te verseker dat Frankryk nie teen Georgië ʼn beter punteverskil daarstel sou hulle wel ʼn bonuspunt vir vier drieë kry nie.

Die Franse en Suid-Afrika het in hulle wedstryd verlede week gelykop gespeel.

♦  Sondag het die Junior Bokke in die tweede helfte eers vlamgevat en werklik beheer op die telbord gekry toe hulle twee keer binne minute gaan druk het nadat die tuisspan se Guram Gogichashvili met ʼn geel kaart vir herhaalde skrumoortredings af was.

Die wedstryd is egter moontlik in die eerste helfte gewen toe die Bokke 14 minute lank die aanslag op hulle doellyn van die groot, aggressiewe pak Georgiërs weerstaan het en nie wou besgee nie.

Die Bokke het wel ʼn keer of twee kortstondige verligting gekry, maar dan het die Maroentruie weer gemaal en gedryf – sonder sukses totdat hulle, nadat hulle ʼn bal oor die doellyn verloor het, na 29 minute gaan druk het om die telling 7-elk te maak. Suid-Afrika se vroeëre drie is deur hul agsteman Juarno Augustus gedruk, wat in die eerste wedstryd ook twee keer gaan druk het.

Maar toe het Wandisile Simelane na 34 minute ʼn pragtige individuele lopie met rigtingverandering en vaart afgerond en het Manie Libbok ook agter die doellyn gaan kuier.

Die rustydtelling van 19-7 in  die Bokke se guns was ietwat vleiend teen ʼn span wat goed afgerig en aggressief is en goeie vaardighede het.

♦  Die fanatiese tuisskare was tjoepstil toe die Junior Springbokke hulle voorsprong na rustyd na 31-7 vergroot het na twee drieë binne twee minute deur die vleuel Yaw Penxe en Simelane met sy tweede. Libbok het ook tien minute later weer gaan druk.

Dit was pragtige ondersteunende spel en agterspelers wat voluit gehardloop en regte opsies uitgeoefen het vir die indrukwekkendste tydjie in ʼn goeie en harde wedstryd.

Toe was dit die tuisspan wat die laaste tien minute weer geweldige druk toegepas het maar nie teen stewige verdediging kon deurdring nie.

♦  Daar was kort voor die einde ʼn geel en ʼn rooi kaart vir Suid-Afrika. Hendré Stassen het onder die druk van die tuisspan se voorspelers geboet vir vorige oortredings en ʼn finale spanwaarskuwing, maar die groot probleem vir die Junior Bokke vorentoe mag die afstuur met ʼn rooi kaart van Zain Davids in die 80ste minuut wees.

Daar was ʼn ligte gestampery, en die Blitsbok het ʼn teenstander Tornike Jalagonia nadergetrek, oënskynlik net gemaak of hy hom met die kop gaan stamp maar toe wel liggies kontak gemaak.

Kopstamp is taboe, en dit mag die einde van Davids se toernooi beteken.

Puntemakers –

Suid-Afrika (19) 38: Drieë: Juarno Augustus, Wandisile Simelane 2, Manie Libbok 2, Yaw Penxe. Doelskoppe: Jean-Luc Cilliers 2, Curwin Bosch 2.
Georgië (7) 14: Drieë: Lasha Tabidze, Giorgi Gogoladze, Doelskop: Gela Aprasidze

Ander uitslae:

Skotland 32 Ierland 28; Nieu-Seeland 68 Italië 26; Australië 33 Samoa 26; Frankryk 26 Argentinië 15 (Engeland en Wallis het laat afgeskop se uitslag was nog nie bekend nie)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.