Junior Bokke klop óók die Franse en beklink derde plek

Die Junior Springbokke het soos hulle ouboete gemaak toe hulle Sondag in Tbilisi vir Frankryk ook met 37-15 in die o.20-Wêreldkampioenskap in die uitspeel om die derde plek geklop het.

In die eindstryd om die kampioenspan vir 2017 te bepaal, het die All Blacks met 64-17 teen Engeland gewen nadat hulle tien drieë gedruk en rustyd met 40-7 voor was.

Die wedstryd om die bronsmedalje het tot rustyd redelik gelykop verloop met die Bokke wat die voortou net na rustyd geneem het en toe nooit weer agter was nadat hulle vroeër kortstondig met 7-0 voor was nie.

Hierdie voorsprong was te danke aan die slot Ruben van Heerden se drie wat deur Manie Libbok verdoel is.

Die Franse het met ʼn onverdoelde drie en strafdoel hul neuse voorgekry en was met rustyd met 8-7 voor.

Die Franse is toe in die eerste minuut na die hervatting geskud toe Johan Grobbelaar  gaan druk het met Libbok wat verdoel en toe met ʼn lang strafdoel geslaag het.

Die telling was skielik 17-8 in Suid-Afrika se guns en daarna was daar geen keer aan die Junior Bokke wat 30 punte in die tweede helfte aangeteken het nie.

Die plaasvervanger-senter David Brits het met goeie voorgevoel onderskep en neergelê doellyn toe om te druk en toe het Grobbelaar sy tweede drie gaan druk wat gevolg is deur die agsteman Juandro Augustus se sewende drie van die toernooi.

Tussen hierdie drieë het Libbok nog ʼn strafdoel oorgeskop om die telling 37-8 te maak.

Frankryk het in die doodsnikke van ʼn kortskoppie af gaan druk en verdoel.

Junior Springbokke (7) 37: Drieë: Ruben van Heerden, Johan Grobbelaar 2, David Brits, Juandro Augustus. Doelskoppe: Manie Libbok 3. Strafdoele: Libbok 2.
Frankryk (8) 15: Drieë: Peato Mauvaka, Baptiste Couilloud. Doelskop: Baptiste Couilloud. Strafdoel: Baptiste Couilloud

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lol ·

Hoekom het David Brits net in eerste en laaste wedstryde gespeel. Beseer of kwota?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.