Junior Bokke klop Wallis ook; nou wag Engeland

Die Junior Springbokke het Dinsdag die tweede van hul drie opwarmingswedstryde in die VK ook gewen toe hulle Wallis op Cardiff Armspark met 41-5 geklop het.

Dit was die tweede keer dat die Junior Springbokke 41 punte aangeteken het. Hulle het Vrydag met 41-3 teen Skotland gewen.

Die twee wedstryde is deel van die opwarmingstoer voor die o.20-Wêreldkampioenskap wat oor drie weke in Frankryk begin.

Die rustydtelling teen Wallis was 10-0. Dit was veral die Junior Springbokke se voorspelers wat met goeie eerstefase-besit indruk gemaak het. Die span se verdediging was ook goed en hulle het ʼn hele paar knaende aanvalle van Wallis met sukses afgeweer.

Die Junior Bokke het ses drieë teen een gedruk en kom Vrydag in Worcester teen Engeland te staan. Hulle is bekend vir hul aggressiewe voorspelers en dit sal selfs meer intensiteit van die Suid-Afrikaanse span as teen Wallis verg om die Engelse te klop.

Die Junior Bokke se afrigter Chean Roux het ná die Wallis-wedstryd gesê hy is tevrede met die verdediging, maar dat daar nog werk op die aanval wag.

Hy verwag ʼn kwaai aanslag teen Engeland met net 2½ dae se ruskans tussen die laaste twee wedstryde vir die Bokke. “Ons probeer dit so taai moontlik vir die spelers maak,” was Roux se reaksie daaroor.

Puntemakers –

Wallis (0) 5: Drie: Corey Baldwin.
Junior Springbokke (10) 41: Drieë: Muller Uys, Wandisile Simelane, David Coetzer (2), Daniel Jooste, Tyrone Green. Doelskoppe: Gianni Lombard (4). Strafdoel: Lombard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

rollie ·

Engeland sal die toets wees maar dit lyk tog of hierdie span beter is as die afgelope paar jaar se getjommel.

Johan ·

Stem saam Rollie. Klink of daar meer voorbereiding gedoen word as voorheen. Baie goed dat ons toer vooraf sodat die manne op ‘n ander vlak kan “gel” en ervaring kry om buite hul “comfort zone” tewees.

VM ·

Baie dankbaar dat dit stukke beter gaan met die Junior Bokke – sal egter baie oortuiging verg om weer na ‘n wedstryd te kyk – verlede jaar se mannetjies was hopeloos het egoisties en vol van hulself. Sterkte vir Engeland!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.