Junior Bokke los beste vir hul laaste helfte

Ai tog, waarom nóú eers?

ʼn Mens kan dit met reg vra nadat die Junior Springbokke Sondag die sewende keer in 11 toernooie die bronsmedalje by die o.20-Wêreldkampioenskap gewen het deur in ʼn skitterende tweede helfte die All Blacks stukkend te speel en met 40-30 te wen.

En glo dit maar: Dit was die vyfde keer in ses kragmetings in die kompetisie dat die Bokke vir Nieu-Seeland geklop het.

Rustyd was die Juniors met 14-25 agter, en die 80 minute was reeds verby voordat Nieu-Seeland hulle enigste punte ná rustyd aangeteken het terwyl die  Junior Bokke in die tweede helfte met 26 punte baljaar het.

Die eerste helfte, toe die Junior Bokke vir die vierde keer in vyf wedstryde met die omdraaislag in die toernooi agter was ‒ die uitsondering was toe hulle naelskraap met net 12-10 teen Ierland voor was ‒ was soos die eerste vier wedstryde. Suid-Afrika was sonder fut, vol foute, daar was swak keerwerk en ses balle wat deur Nieu-Seeland omgekeer is.

Ná rustyd was dit (weer) ʼn ander storie ‒ en ʼn mens sal ná sy skittervertoning in die middelveld, wat ʼn drie ingesluit het, kopskuddend bly wonder waarom Wandisile Simelane drie wedstryde lank op vleuel gemors is.

♦  Tyrone Green het binne die eerste minuut vir die Junior Bokke gedruk en was, soos in al sy wedstryde, vol werkywer, goed op die verdediging en gewillig om te hardloop.

ʼn Minuut later het die All Blacks deur blapse en power keerwerk van Suid-Afrika gelyk getrek. Die Juniors het eers in die 61ste minuut, na hul voorspelers in die tweede helfte beheer oorneem het, weer voorgeloop ná Ruan Nortjé se drie en tot die eindfluitjie voorgebly.

Van Nortjé gepraat: Dié lang slot het saam met Salmaan Moerat die lynstane oorheers en talle balle is van die Nieu-Seelandse ingooie gewen. In die los was die flank Ben-Jason Dixon, beweeglik, hardwerkend en oral by.

Laastens is ʼn pluimpie oor die hanteerwerk seker geregverdig. Suid-Afrika is net drie keer vir hanteerfoute gestraf. Daar was natuurlik ook aanslane en ander hanteerfoute wat deur die Kiwi’s met voordeel uitgebuit is, maar in die geheel was dit ʼn pluspunt.

Puntemakers ‒

Suid-Afrika (15) 40: Drieë: Tyrone Green (2), Sazi Sandi, Ruan Nortjé, Wandisile Simelane, Asenathi Ntlabakanye. Doelskoppe: Gianni Lombard (4), Lubabalo Dobela.
Nieu-Seeland 25 (25): Drieë: Jay Renton, Harry Plummer, Waimana Riedlinger-Kapa, Caleb Clarke. Doelskoppe:  Plummer (2). Strafdoele: Plummer (2)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

rollie ·

Interessant dat ons so ‘n goeie rekord teen NZ in die toernooi het (slegs eenkeer verloor) maar dat NZ die toernooi reeds 6 keer gewen het in die laaste tien jaar en ons net 1 keer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.