Junior Bokke: Sewe veranderinge vir die halfeindstryd teen Engeland

Suid-Afrika kry Dinsdag (19:00) in Narbonne in die halfeindronde van die o.20-Wêreldkampioenskap teen Engeland die kans om te bewys dat hulle wél die gehaltespan is waarvan voor die toernooi gewag gemaak is.

Die halfeindstryd kom vier dae nadat hulle ná ʼn futlose eerstehelftevertoning die eerste keer nóg in die elf jaar van hierdie kompetisie teen Frankryk verloor het.

Dié keer het die afrigter Chean Roux sewe veranderinge aan die beginspan teen Engeland aangebring en ook twee nuwelinge op die bank ingesluit. Daar was ses veranderinge aan die opdrafspan teen Frankryk nadat die Blitsbokke in die vorige wedstryd teen Ierland gestotter, maar tog gewen het.

Vyf van die sewe veranderinge teen Engeland is onder die voorspelers ‒ insluitende die hele voorry.

Die sewe veranderinge is op losskakel, waar die beseerde Damian Willemse se toer-plaasvervanger, David Coetzer, die eerste keer begin; en die senter Rikus Pretorius is weer fiks ná sy enkelbesering en speel saam met Manuel Rass in die middelveld.

Die plaasvervangerflank, Phendulani Buthelezi, die haker Tiaan van der Merwe en die stut Alulutho Tshakweni is ook die eerste keer in die opdrafspan; Sazi Sandi is op vaskop gekies, wat beteken dit is ʼn spliternuwe voorry; en op slot vervang Ruan Nortjé vir Ruan Vermaak.

Ook op die bank kry een van die plaasvervangers uit Suid-Afrika, Leon Lyons, sy eerste kans nadat hy Saterdag eers in Frankryk aangekom net; en die skrumskakel Jack Hart is ook nou op die bank.

♦ Die Junior Bokke hét al vanjaar met Engeland afgereken, maar dit was op hul toer na die VK waar hulle ook vir Skotland en Wallis geklop het.

Was dit dieselfde Engelse span wat nou in Frankryk die beste in hul groepronde gevaar het? Was hulle oorgehaal vir die Boktoerspan vir wie die toer erns was? Waarskynlik nee op albei dié vrae. En dit maak ook nie saak nie, want Dinsdagaand se wedstryd is die een wat werklik tel.

♦ Suid-Afrika het in die afgelope vyf toernooie net een keer teen Engeland gewen. Daar was darem ook twee naelskraapse neerlae. In 2014, met Handré Pollard as kaptein en die huidige Springbokke Jesse Kriel, Warrick Gelant, André Esterhuizen en Thomas du Toit in die span, het hulle in die eindstryd naelskraap met 20-21 verloor en verlede jaar in die halfeindwedstryd was Engeland net-net met 22-20 baas.

Dit kan op die verdediging wees waar die wedstryd gewen of verloor word. Net drie spanne van die 12 deelnemers het meer drieë as Suid-Afrika se 11 afgestaan; Engeland het vier afgestaan. Hulle het 18 drieë teenoor Suid-Afrika se 15 in die groepronde gedruk.

Maar, wie weet, dalk maak die Junior Bokke soos die Springbokke en die Blitsbokke die afgelope naweek en wen teen die verwagting in!

Junior Springbokke ‒

Gianni Lombard, Tyrone Green, Manuel Rass, Rikus Pretorius, Wandisile Simelane, David Coetzer, Zak Burger, Muller Uys, PJ Steenkamp, Phendulani Buthelezi, Ruan Nortje, Salmaan Moerat (kapt.), Sazi Sandi, Tiaan van der Merwe, Alulutho Tshakweni. Bank: Schalk Erasmus, Leon Lyons, Asenathi Ntlabakanye, Ben-Jason Dixon, Dian Schoonees, Jack Hart, Lubabalo Dobela, Sihle Njezula.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

32-31 vir Engeland.Hartverskeurend -geelkaart plaas Bokkies op agtervoet en kon nie die voorsprong wat Engeland opgebou het inhaal nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.