Junior Bokke moet gouer uit die blokke teen All Blacks

Beserings het wel sy tol geëis, maar ʼn mens wonder maar of daar om taktiese redes of om al die spelers voldoende speelkans te gee so dramaties aan die Junior Springbokke se span verander word.

Nadat die Junior Bokke se afrigter Chean Roux ses veranderinge vir die laaste moet-wen groepwedstryd teen Frankryk gemaak het, het hy sewe verander vir die halfeind teen Engeland en nou vyf vir die uitspeel Sondagmiddag (16:30) om die bronsmedalje teen Nieu-Seeland.

Die vraag moet seker gevra word of dit nie die oorsaak is dat die manne elke keer mekaar van nuuts af moet leer ken en dat dit daarom is dat hulle nog in elk van die vier wedstryde eers in die tweede helfte hulle voete gevind het nie.

Derde plek, as jy na die geskiedenis kyk, is feitlik deur die Junior Springbokke bespreek. Hulle was in 2009 (teen Australië), 2010 (teen Engeland), in 2013 (teen Nieu-Seeland), in 2015 en 2017 (albei kere teen Frankryk) die derde beste span op die toernooi.

In 2012 in Suid-Afrika het die Junior Bokke eindstryd op Nuweland gewen en in 2014 het hulle met ʼn enkele punt, 21-211, teen Engeland in die eindstryd verloor. Hulle was ook vierde toe Argentinië hulle in 2016 met 49-19 afgeransel het en een keer vyfde, toe hulle in 2011 Fidji met 104-17 in die uitspeel om vyfde plek geklop.

♦  Hoe gaan hulle teen Nieu-Seeland vaar? Die Baby Blacks, soos hulle in hul tuisland genoem word, het verlede week teen die einde kwaai teenstand in hulle halfeind teen Frankryk gegee, maar soos die Junior Bokke in die groepwedstryd te lank tweede viool gespeel om die agterstand in te haal.

In hul enigste uitspeel om die bronsmedalje tot dusver teen die Baby Blacks, in 2013, het die Junior Bokke goed gewen (34-17 ). As hulle Sondag met die regte benadering (en die regte span?) opdraf en speel soos in die tweede helfte teen Frankryk en ook na rustyd in die halfeind teen Engeland toe hulle met 31-32 verloor het, behoort hulle die All Blacks te klop.

Maar iets het tot dusver in al die wedstryde geskort waar daar elke keer na rustyd eers reggeruk en ordentlike rugby opgedis is. Dít sal Sondag uit die staanspoor nodig wees.

Die span ‒

Gianni Lombard, Tyrone Green, Wandisile Simelane, Lyle Hendricks, Sihle Njezula, David Coetzer, Rewan Kruger, Muller Uys, Ben-Jason Dixon, Phendulani Buthelezi, Ruan Nortje, Salmaan Moerat (kaptein), Sazi Sandi, Daniel Jooste, Alulutho Tshakweni. Bank: Schalk Erasmus, Leon Lyons, Asenathi Ntlabakanye, Ruan Vermaak, Dian Schoonees, Jack Hart, Lubabalo Dobela, Manuel Rass.

Afskop: Sondag 16:30

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.