Junior Bokke oorweldig Droomspan, maar dinge verloop nie seepglad

Die Droomspan se linkervleuel Duncan Saal op pad na sy drie. (Foto: Luigi Bennette/Saspa)

Die Junior Springbokke het wel Maandagaand die Varsitybeker-droomspan in Stellenbosch geklop, maar hulle vertoning in die eerste helfte het allermins die stempel van ’n span gedra wat sy oog op die o.20-wêreldkroon het.

Na ’n sukkelende eerste helfte het hulle teruggeveg om die wedstryd met 50-19 te wen en in die proses sewe drieë te druk.

Maar in die eerste helfte was die Junior Bokke alles behalwe oortuigend. Hulle het die eerste drie van die wedstryd gedruk toe die slot Ruben van Heerden oorgeduik het, maar daarna het die Droomspan drie keer gaan druk en krake in die Junior Bokke se mondering gewys.

Die Junior Springbokke se verdediging in daardie eerste 40 minute was skokkend, om die minste te sê.

Die linkervleuel Wandisile Simelane het twee lelike duikslae verbrou, een daarvan toe sy direkte teenstander, die Droomspan se Sibahle Maxwane, om hom geseil het om die heelagter Craig Barry weg te stuur wat onder die pale gaan druk het.

Ook het die Junior Bokke se spel by die afbreekpunte veel te wense oorgelaat, grootliks as gevolg van spelers wat van hulle voete af by die losskrums ingeboender het. Voeg daarby die lynstane wat ook nie vlot wou verloop nie en jy weet hoekom Chean Roux, afrigter van die Junior Springbokke, alles behalwe ’n tevrede man sal wees.

In die tweede helfte het die Junior Springbokke, met veral die losskakel Damien Willemse aan die spits, dikwels met slim voetwerk en goeie balverspreiding gate in die Droomspan se verdediging blootgelê en nog vier keer gaan druk.

Gepraat van Willemse: kort voor die einde het hy ’n flambojante duik deur die lug gemaak om ’n drie in die hoek te druk. Toegegee, hy is uitgeduik na skitterende dekverdediging deur die Droomspan, maar hy kon maklik afgerond het as hy nie die kollig probeer steel het nie.

Vir die Droomspan het die skrumskakel André Warner beïndruk met die manier waarop hy die tempo van die spel gereeld met vinnige tikskoppies verhoog het, iets wat die Junior Bokkies dikwels onverhoeds betrap het.

♦  Die laaste keer wat die Junior Springbokke die o.20-Wêreldkampioenskap kon wen, was in 2012 toe die toernooi in Suid-Afrika aangebied is.

Die Junior Bokke se aanslag op die 2017-titel, wat in Georgië beslis word, begin op 31 Mei wanneer hulle teen Frankryk te staan kom.

Puntemakers –

Droomspan (19) 19: Drieë: Duncan Saal, Craig Barry, Loftus Morrison. Doelskoppe: Tinus de Beer 2.
Junior Bokke (21) 50: Drieë: Ruben van Heerden 2, Salmaan Moerat, Muller Uys, Damien Willemse, Nama Xaba, Manie Libbok. Doelskoppe: Gianni Lombard 6. Strafdoel: Lombard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Frans C ·

Die droomspan het na ‘n goeie eerste he’n nagmerrielfte (verstaan nou nog nie hoe ‘n derde drie onder die pale nie verdoel is nie in ‘n nagmerrie span verander.
Dit is moeilik om te glo dat dit werklik die beste van al die universiteite was.

Jack Russl ·

Ek het net die eerste helfte gekyk en die verdedeging was skokkend. Wat het geword van vat die man om te bene sodat hy kan val? Almal wil hulle om die bolyf gryp.

Meeste van die tyd word die aangee ook so agter die hand uitgegee en gaan dan verlore. Hoekom dit nie net basies hou en sorg dat die aangee by sy bestemming uitkom nie.

Kan heel moontlik die beste van die universiteite wees, onthou hulle het bitter min tyd gehad om as ‘n eenheid saam te oefen. Dis dalk al wat die Jnr Bokke se agterente gered het.

Te veel snaakhede wat hulle wil probeer, gaan terug na die basiese toe, dan sal hulle baie beter vertoon. Soos die berig sê daar is ‘n drie verbrou deur te probeer die kollig steel.

Louis ·

Die junior bokke is nie meriete gekies nie, dit is tragies, staan geen kans

Pietman ·

Hoe help jy een span wat nie op meriete gekies is nie? Jy kies ook nie die ander span op meriete nie.

Fires ·

Swakste varsity span in jare,shimlas sou beter gedoen het. Junior bokke gaan vasval dis verseker

Bantam ·

Die jong bokkies het soos n skole span in die eerste helfde gelyk

Bantam ·

Ons spelers het te veel “side shows ” as hulle driee druk .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.