Junior Bokke ruk in tweede helfte reg ná sukkelbegin

Die status van die sogenaamde superrugbylande op juniorvlak is aan die taan.

Suid-Afrika was onder druk teen Georgië in hulle eerste wedstryd in die o.20- Wêreldkampioenskapswedstryd; Frankryk het met 26-24 teen Ierland gewen; Australië het teen Wallis slae gekry; en Italië het Skotland geklop.

Engeland sal weer ʼn faktor wees soos blyk uit die oorwinning met 39-18 teen Argentinië; en dit is duidelik dat die Nieu-Seelandse span, wat met 67-0 teen die verwilderde Japan gewen het, in die uitspeelrondes sal wees.

♦ Wat die oënskynlike oorgeruste Junior Bokke betref, het hulle ná ʼn sukkelende eerste helfte darem weggetrek en die rustydtelling van 12-17 na die eindtelling van 33-27 verander.

Die Junior Bokke het binne sewe minute, tussen die 43ste en die 47ste minuut, die agterstand uitgewis en die voortou geneem wat hulle nooit prysgegee het nie.

Die Junior Bokke se afrigter, Chean Roux, het ná die wedstryd erken dat die oorwinning “al is wat ons uit die wedstryd gekry het”.

“In die eerste helfte het ons te veel balle laat val en foute gemaak. Ek dink ons was veel beter in die tweede helfte.”

♦ Daar is drie afdelings waar die wenner en die tweedegeplaaste span, met die meeste ligapunte en daarna die grootste punteverskil, na die halfeind deurdring. Die Kiwi’s sal moeilik daarvan weerhou word.

Puntemakers in die Junior Bokke se wedstryd ‒

Suid-Afrika (12) 33: Drieë: Wandisile Simelane, Muller Uys (2), Tyrone Green, Zak Burger. Doelskoppe: Damian Willemse (4).
Georgië (17) 27: Drieë: Lasha Lomidze, Demur Tapladze, Luka Dvalishvili. Doelskoppe: Gela Aprasidze (2), Tedo Abzhandadze. Strafdoele: Aprasidze (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Onnodige robuuste spel het in ‘n geelkaart verander en kon die Bokkies die wedstryd gekos het.Dit is baie duidelik dat die ses-nasie se onder 20 kompetisie besig is om vrugte af te werp,want die jaarlikse kompetisie dien as voorbereiding tot die wêreldbeker.

Sanzar en die deelnemende rugby unie staar hulself blind teen die Super 15 en kampioenskap reeks en besef nie dat alles op juniorvlak beging nie.Waarom daar nie ‘n soortgelyke kompetisie in die Suidelike halfrond is nie wat saam met die kampioenskap
gaan,sal net diegene inbeheer weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.