Junior Bokke se terugvegpoging nie goed genoeg nie

Die Junior Springbokke moes tot dusver in die o.20-Wêreldkampioenskap drie keer in vier wedstryde ná ʼn rustydagterstand terugveg, maar kon Dinsdagaand, soos in hul laaste groepwedstryd teen Frankryk, nie die groot gaping vernou om te wen nie.

Suid-Afrika het die halfeindstryd teen Engeland in Narbonne met ʼn enkele punt verloor, 31-32, nadat hulle in die tweede helfte in beheer was. Maar die rustydtelling van 7-22 was vir hulle eenvoudig te veel nadat hulle ná 23 minute reeds met 0-19 agter was.

Die Junior Springbokke speel nou Sondag (16:30) teen die All Blacks om die bronsmedalje nadat Nieu-Seeland in die ander halfeindstryd  met 7-16 teen Frankryk verloor het.

Volpunte vir veggees, maar die les(se) van die groepwedstryde om met die omdraaislag darem binne trefafstand te wees, is nie geleer nie. Teen Georgië was die Junior Bokke met rustyd 12-17 agter (wentelling 33-27); teen Ierland was hulle rustyd net-net met 12-10 voor (wentelling 30-17); en teen Frankryk was die rustydtelling 7-36 voordat Suid-Afrika met 29-46 verloor het.

Dinsdagaand was Suid-Afrika weliswaar nie rustyd met 7-36 soos verlede week teen Frankryk agter nie, en die voorspelers het in die tweede helfte alles uitgehaal om vir die swak begin te vergoed.  Waarom daar nie vroeër met die agttal gespeel is nie, is moeilik te begryp.

♦ Engeland het vroeg gelyk of hulle die Junior Bokke heeltemal sou oordonder, en het met ʼn yslike eerste skrum gewys waartoe hul voorspelers in staat is.

Hulle het die skrums, en trouens die hele eerste helfte, oorheers en twee van hul vier drieë gedruk in die tyd wat die agsteman Muller Uys in die sesde minuut ʼn geelkaart gekry het vir ʼn blatante laat duikslag sonder om sy arms te gebruik.

Daarna moes die Junior Springbokke vanaf 0-12 heeltyd inhaalrugby speel.

In die lynstane het die Bokke beter gevaar as tot dusver in die toernooi, die dryfwerk in die tweede helfte was veel beter en hulle het Engeland op hul eie doellyn onder druk gehou met die aanhoudende optel en dryf van die voorspelers.

Die nekslag was die drie deur Engeland se vleuel Jordan Olowofela wat die bal naby sy doellyn in die hande gekry en feitlik die lengte van die veld gehardloop het nadat die Juniors se senter Rikus Pretorius hard aarde toe gebring is.

Suid-Afrika was in daardie stadium net met 19-25 agter, op die aanval en in beheer, maar die drie het die gaping op 32-19 na 13 punte gerek.

ʼn Doel en twee drieë deur Suid-Afrika was nie genoeg nie en Engeland het die laaste sewe minute met net 14 man uitgehou om na die eindstryd deur te dring.

Vyf drieë vir die Junior Springbokke, vier vir Engeland. Goed, maar nie goed genoeg nie.

Puntemakers ‒
Suid-Afrika (7) 31:
Drieë: Sazi Sandi, Muller Uys, Ruan Nortje, Manuel Rass, Asenathi Ntlabakanye. Doelskoppe: Gianni Lombard (3).
Engeland (22) 32: Drieë: Tom Hardwick, Ben White, Tom Parton, Jordan Olowofela. Doelskoppe: Marcus Smith (3). Strafdoele: Smith (2)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Bees ·

Ons groot lomp losvoorspelers sonder spoed en verstand is ons probleem. Uys sal dit nooit maak nie- nog laaste kans toe England 14 man is verbrou deur bal op grond in Engelse hande te skop. Stupid verby.

Manie ·

As ons net n beter stelskopper gehad het, het ons maklik gewen

Frans C ·

Geelkaart in die begin knou junior Bokke.Al die Europese spanne het ‘n voordeel bo die Suidelike halfrond spanne deur hul deelname aan die ses-nasiereeks.

Hul samespel is gevolglik baie beter.Dit stel hul instaat om vroeg die Junior Bokke se gebrek daaraan uit te buit en ‘n voorsprong op te bou.Ook beskik hul oor groot mobiele pakke voorspelers en oorheers dikwels balbesit.

Daar is net een manier om die agterstand uit te wis en moet Junior Bokke in ‘n viernasiereeks deelneem.Hul toer dus saam met die senior span,oefen saam en word so in die Bokkultuur ingelyf.

Die tyd is verby dat jy spelers kies en op kort kennisgewing laat saamspeel en na ‘n paar
wedstryde in ‘n eenheid kan saamsnoer.Samespel ontstaan nie oornag nie.Laat ons nou maar eerlik wees,ons lewe in ‘n rugbygrootheidswaansin en glo dat alles hier beter is en verhef spelers tot wêreldklas om net jaar na jaar ontnugterd te word,soos nou.

Kom SARU word wakker uit jul politieke stiksienigheid en doen iets op junior vlak om die Springbokke van more op te lewer.Waar wil ‘n mens ‘n beter voorbeeld kry as die Sewes-bokkies wat nou die vrugte pluk van ‘n regrukplan.

Josua Keys ·

Frans, ek stem 100% saam jou, die dekselse stampkar, stoomroller rugby is lankal verby, die junior bokke het hulle deurmekaar gehardloop toe hulle die bal in die hande gehou en vinning versprei het maar toe hull oorskakel na die ou stampkar rugby taktiek toe verloor hulle dit heeltemal. In die tweede helfte met 15 minute oor probeer hulle bo oor Engeland hardloop en word elke keer in hul spore gestuit maar die bal bly tussen die voorspelers selfs die laaste drie het gekom van oortollige oordonderinde vervelige stampkar rugby en dit het tenminste 4minute van hul spel opgemors om nie eens te praat van die besit wegskop met 7minute oor op die oorlosie nie, ek kan nie verstaan dat die Afrigter nie n boodskap kon afstuur om die ouens te sê om die bal vinniger te maak nie want dit sou Engeland totaal gesink het want ons ouens was duidelik baie fikser as hulle en dit het hulle ook terug gebring in die wedstryd ongeag ‘n paar lomp ouens voor maar stadige bal besit, stampkar stoomroller rugby was die bokkies se ondergang die laaste 15minute, hulle het teen hul self verloor!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.