Junior Bokke: skakelpaar moet vlugvoetige snellers reg aanwend

Die slot Salmaan Moerat is terug in die Junior Springbokke se beginspan (Foto: Facebook Junior Boks)

Nog ver van afgerond af, maar baie effektief. Dis Georgië se pak voorspelers. En Argentinië, allermins ʼn hierjy-span, is met 11 drieë deur die Junior Springbokke dronk gehardloop.

Al tel hierdie twee nie onder die voorste spanne by die o.20-Wêreldkampioenskap nie, was daar genoeg in die groepwedstryde teen hulle te lees om te glo dat die Junior Bokke Dinsdag (16:00) in die halfeind teen Engeland hulle man meer as net sal staan.

Engeland, soos altyd sterk voorlangs maar minder so as verlede jaar, het in hulle beslissende groepwedstryd teen Australië weens ʼn onbesonne duikslag deur ʼn Aussie-plaasvervanger die wedstryd na die strafdoel 20-19 gewen.

Die jong Wallabies het ondanks die groter Engelse pak teen hulle die losbal beheer en dit goed gebruik. In die vaste fasette was hulle ook heeltemal opgewasse.

Die jong Wallabies was die beste span, maar dis maar hoe dit soms onverdiend gaan …

Dat die Engelse sal veg vir om hulle titel te behou, weet jy. Of hulle goed genoeg sal kan keer teen die Bokke as dié se uitsoek-agterlyn aan die hardloop gaan, moet gesien word.

Miskien is daar by die Junior Bokke nog so ʼn raps te veel arrogansie met die indrukwekkende gehardloop, maar as hulle dit gestruktureerd kan doen, is daar perde en ook hartseer vir die Engelse.

Dit is hierdie amperse hardloop-arrogansie wat veral Curwin Bosch op losskakel moet temper en reg moet inspan. Aan sy binnekant het Bosch in Embrose Papier ʼn ewe-blink ster op skrumskakel.

Durf soos met die knaende keerwerk teen Georgië wie se voorspelers jy nie moet lig kyk nie, en die vaart en vernuf agterlangs maak dat die Junior Springbokke Sondag teen waarskynlik Nieu-Seeland in  die eindstryd sal speel.

♦  Daar is net een verandering aan die Junior se Springbokke wat Argentinië verlede week oorrompel het. Die slot Salmaan Moerat vervang vir Hendré Stassen wat met ʼn besering sukkel.

♦  Die Kiwi’s speel Dinsdag teen Frankryk in die ander halfeind. Durf alleen sal nie die Frans teen die Junior All Blacks deurdra nie.

Dinsdag se bepalings –

16:00 – Suid-Afrika vs Engeland
18:00 – Frankryk vs Nieu-Seeland

Junior Springbokke –

15 Manie Libbok, 14 Yaw Penxe, 13 Wandisile Simelane, 12 Damian Willemse, 11 Gianni Lombard, 10 Curwin Bosch, 9 Embrose Papier, 8 Juarno Augustus, 7 Ernst van Rhyn (kapt.), 6 Len Massyn, 5 Ruben van Heerden, 4 Salmaan Moerat, 3 Carlü Sadie, 2 Johan Grobbelaar, 1 Kwenzo Blose. Bank: 16 Gerhard Steenekamp, 17 Daniel Jooste, 18 Lee-Marvin Mazibuko, 19 Reinhard Nothnagel, 20 Muller Uys, 21 Francois de Villiers, 22 Stedman Gans, 23 Jeanluc Cilliers

Afskop: 16:00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans C ·

Ongelukkig verbrou die Bokkies ‘n vyf voorsprong omdat ‘n ou siekte van Suid Afrikaanse rugby weer vir die soveelste keer sy kop uitgesteek het, nl ‘n doellose skop veld af, oor die doodlyn,lei tot ‘n skrum vir Engeland en tot die wendrie deur die Engelse kaptein.

Hart verskeurend om so te verloor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.