Junior Bokke soek ʼn bonuspunt of groot sege

’n Bonuspunt of  ʼn groot oorwinning.

Dít is waarvoor die Junior Springbokke Donderdag in hul laaste groepwedstryd van die o.20-Wêreldkampioenskap teen Argentinië in Tbilisi moet mik as Chean Roux se span ʼn plek in die uitspeelrondes wil verseker.

In die toernooi gaan net die drie groepwenners en die span wat derde met die meeste ligapunte eindig, deur na die halfeindronde.

Ten einde dié mikpunt te bereik het Roux sy span wat Sondag vir Georgië 38-14 geklop het byna onveranderd gelaat, met die uitsondering van Curwin Bosch wat sy terugkeer op losskakel maak tesame met Ruben van Heerden en Hendré Stassen wat ook gterugkeer. Muller Uys sal die geskorste Zain Davids se plek op die bank inneem.

Hoewel die Junior Springbokke een punt voor Frankryk op die punteleer in hul groep is, durf Frankryk more vir Georgië aan. Sou die Haantjies die Oos-Europeërs ʼn hewige loesing toedien, kan die spanne se onderskeie punteverskil bepaal wie deurdring na die volgende ronde.

In die stadium is die Junior Bokke, wat teen Frankryk gelykop gespeel en toe met 24 punte teen Georgië gewen het, net 23 punte voor die Franse wat betref punteverskil nadat Frankryk met ʼn enkele punte teen Argentinië gewen het.

Frankryk kan natuurlik self ʼn bonuspunt teen Georgië verdien om sodoende gelyk op die punteleer  te trek. En dan kan punterskil bepalend wees.

Die Bokke moet daarom seker maak hulle wen teen ʼn sterk Poemasspan, en moet die punteverskil teen Argentinië so ver as moontlik rek met ʼn bonuspunt wat sake kan besleg.

Daarom sal Bosch se generaalskap sal van kardinale belang wees en sy vermoë om gevaarmanne soos Damian Willemse en Wandisile Simelane in spasie te sit, kan deurslaggewend vir die Bokke se toernooi wees.

Die afskop is 13:30 (SA-tyd).

Junior Springbokke –
15 Manie Libbok, 14 Yaw Penxe, 13 Wandisile Simelane, 12 Damian Willemse, 11 Gianni Lombard, 10 Curwin Bosch, 9 Embrose Papier, 8 Juarno Augustus, 7 Ernst van Rhyn (kapt.), 6 Len Massyn, 5 Ruben van Heerden, 4 Hendré Stassen, 3 Carlü Sadie, 2 Johan Grobbelaar, 1 Kwenzo Blose. Bank: 16 Gerhard Steenekamp, 17 Daniel Jooste, 18 Wikus Groenewald, 19 Salmaan Moerat, 20 Muller Uys, 21 Francois de Villiers, 22 Stedman Gans, 23 Jeanluc Cilliers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.