Junior Bokke verander vier vir Ierland

Die vier veranderinge aan die Junior Springbokke se beginspan teen Ierland vir Sondag se o.20-Wêreldkampioenskapswedstryd in Narbonne is die gevolg van beserings en die teenstand wat verwag word en nie oor die sukkelvertoning teen Georgië nie.

Die afrigter Chean Roux moes die vleuel Sihle Neijzula en die senter Rikus Pretorius vir die wedstryd vervang. Hulle plekke word onderskeidelik ingeneem deur die Blitsbok Muller du Plessis, wat op die linkervleuel sal begin, en deur Lyle Hendricks, wat nou saam met Wandisile Simelane op senter uitdraf.

Die ander twee veranderinge is onder die voorspelers, waar die vaskopstut Asenathi Ntlabakanye in die plek van Sazi Sandi speel en Ben-Jason Dixon op flank by PJ Steenkamp oorneem.

Ntlabakanye en Steenkamp sal op die bank wees. Manuel Rass die enigste speler op die bank wat nie Woensdag teen Georgië deel van die wedstryd-23 was nie.

Roux het dit duidelik gemaak dat hierdie twee veranderinge aan die beginspan gedoen is met die verwagte uitdagings wat die wedstryd aan die Blitsbokke sal bied.

♦ Ierland was Woensdag rustyd met 17-5 teen Frankryk voor, maar het daarna drie drieë in tien minute afgestaan en die taai wedstryd met 24-26 verloor.

Die Ierse verdediging was nie waffers nie, en die Bokke se voorspelers behoort te oorheers. Tog sal hulle versigtig wees vir die Iere se dryfmaalbewegings van die lynstane af en hulle soliede skrumwerk.

“Ons moet eenvoudig verbeter op ons vertoning teen Georgië,” het Roux beklemtoon.

Dit is vir albei spanne ʼn moet-wen wedstryd ‒ soos elke wedstryd in die reeks eintlik maar is waar net die drie afdelingwenners en die tweede geplaaste span in die drie afdelings met die meeste ligapunte na die halfeind deurdring. Waar die ligapunte van twee of meer tweede geplaaste spanne dieselfde is, gee punteverskil die deurslag.

Junior Springbokke –
15. Gianni Lombard, 14. Tyrone Green, 13 Wandisile Simelane, 12 Lyle Hendricks, 11 Muller du Plessis, 10. Damian Willemse, 9 Zak Burger, 8 Muller Uys, 7 Ben-Jason Dixon, 6 Dian Schoonees, 5 Ruan Nortje, 4 Salmaan Moerat (kapt.), 3 Asenathi Ntlabakanye, 2 Daniel Jooste, 1 Nathan McBeth. Bank: 16 Schalk Erasmus, 17 Alulutho Tshakweni, 18 Sazi Sandi, 19 Ruan Vermaak, 20 PJ Steenkamp, 21 Rewan Kruger, 22 Lulbabalo Dobela, 23 Manuel Rass.

Afskop: 16:30.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.