Junior Bokke: Willemse-besering terugslag vir Juniors, Stormers

Damian Willemse – ernstig beseer (Foto @twitter Junior Springboks)

Die goeie oorwinning van die Junior Springbokke is Sondag oorskadu deur die ernstige beenbesering van die hoogaangeskrewe losskakel van die Stormers en onderkaptein van die Junior Springbokke, Damian Willemse.

Willemse is Sondag ná 48 minute met ʼn noodhulpkarretjie van die veld met wat na ʼn ernstige beenbesering gelyk het. Sy besering is vir die Junior Bokke ʼn geweldige slag in hul strewe om die o.20-Wêreldkampioenskapstitel in Frankryk te wen.

Hulle was met 12-17 agter toe Willemse van die veld is en het allermins gelyk na ʼn span wat die titel in Frankryk kan wen.

Die eindtelling was egter 30-17 in Suid-Afrika se guns, en dit was ʼn besonderse ommekeer in Suid-Afrika se spelgehalte ná rustyd wat hulle laat wen het.

Ná ʼn gesukkel voorlangs het hulle ná rustyd die skrums heeltemal oorheers, by die afbreekpunte ingedons en die bal op die grond gewen, en goed in die lynstane gedryf, hoewel die kommunikasie tussen haker en springers steeds gelol het.

Wandisile Simelani het ʼn driekuns in dié helfte behaal, en twee keer kort ná mekaar gaan druk om sy span in beheer te plaas. Die tweede drie was ʼn buitengewoon goeie individuele poging toe hy in die Ierse doelgebied, nadat hy ʼn hoë skop gejaag het, voor die wagtende Ierse skrumskakel in die lug gespring het om die bal te wen en te druk.

Die ander twee drieë was goeie opbouwerk deur eers die voorspelers en toe goeie gebruik van die bal agterlangs.

♦ Maar dit was nie maklik nie. Tot net voor Willemse van die veld is, was die Iere heeltemal baas. Hulle het besit in so ʼn mate oorheers dat die Bokke feitlik drie keer soveel duikslae moes maak, waarvan net meer as 20% verbrou is.

Benewens die vrot verdediging is hulle om die losbal geklop, het hulle in daardie stadium meer as die helfte van hul eie lynstane verloor, in die skrums swaargekry en ʼn verdiende geelkaart afgestaan.

Hulle het voor rustyd al agt strafskoppe afgestaan.

Ierland het boonop ʼn “drie” verbrou toe hulle net voor rustyd oorgeduik maar die bal verloor het. Dit het die Junior Bokke rustyd met ietwat onverdiend met 12-10 laat voorloop.

Die Juniors se agterlyn, wat tot rustyd maar min van die bal te siene gekry het, het ook nie oortuig nie. Willemse is goed dopgehou en benewens een goeie breekslag waartydens hy die bal verloor het, het hy nie werklik gesag afgedwing nie.

Puntemakers ‒

Suid-Afrika (12) 30: Drieë: Zak Burger, Muller du Plessis, Wandisile Simelane (3). Doelskop: Damian Willemse. Strafdoel: Gianni Lombard
Ierland (10) 17: Drieë: Caelan Doris, Michael Silvester. Doelskoppe: Conor Dean (2). Strafdoel: Dean.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

CdV ·

Wim, ” cut en paste” jy jou verslae? Die wedstryd was dan Sondag 3 Junie gespeel- nie Saterdag nie. Jy verwys TWEE keer na Saterdag. Wakker slaap!

Mariné Lourens ·

Dagsê CdV

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Willem ·

Hulle is nie junoir bokke nie, ook nie proteas nie, terloops die wat nie weet nie, die protea is ons nasionale blom, die mannetjies is nog in hul kinderskoene, hulle is varings.

Al ·

My opinie is dat Willemse “over-rated” is. Die junior bokkies / varings het al hulle opwarmingswedstryde maklik gewen sonder hom. Met Willemse op losskakel sukkel ons teen Georgië en Ierland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.