Juniors druk 11 keer om halfeindplek te verseker

Wandisile Simelane – drieloos, maar een van die groot uitblinkers teen die jong Poemas. (Foto Twitter @jeppeboys)

Dit was heerlik en mooi om na te kyk, vol vernuf en vaart en heeltemal oortuigend toe die Junior Springbokke Donderdag met 72-14 teen Argentinië in die o.20-Wêreldkampioenskap gewen het.

Daarmee het hulle die eerste plek in groep C van die toernooi in Tbilisi, Georgië, ingeneem en ʼn plek in die hallfeindronde verdien.

Die Junior Bokke moes baie punte aanteken om die punteverskil buite Frankryk se bereik te plaas wat nog teen Georgië moes speel, of ʼn bonuspunt behaal. Hulle het albei met oortuiging reggekry met hulle elf drieë en ʼn batige punteverskil van 82.

Suid-Afrika se agterlyn het in die ietwat losse wedstryd eenvoudig baljaar. Embrose Papier, Curwin Bosch, Wandisile Simelani, Gianni Lombard, Manie Libbok en Yaw Penxe het letterlik met elke bal probeer hardloop.

Soms het dit doodgeloop, soms was die verdediging skoon oorhoops en selfs verspot … maar die eindresultaat was dat jy kon sien hier is vaardigheid, samespel en ondersteuning aan Bokkant.

ʼn Mens moet ook byvoeg dat Argentinië geen hierjy-span is nie. Hulle was verlede jaar in die laaste vier en het Donderdag steeds van sewe van daardie spelers kon gebruik maak; hulle het Frankryk, wat teen die Junior Bokke gelykop gespeel het, tot reg aan die einde laat les opsê voordat die Poemas met 25-26 verloor het; en hulle het die vloer met Georgië gevryf.

Twee van die eerste twee drieë deur die Bokke was verspot-maklik na Argentynse foute. Daarna was dit pure pret en goeie oordeel plus die genoemde vaart.

Die voorspelers was deel van die feesrugby, hoewel hulle basiese werk nie te veel afgeskeep is nie. Hulle het darem teen Georgië, met al sy foute maar met ʼn uitstekende pak voorspelers, gewys dat hulle benewens vaart na die losbal ook hul man in die vaste fasette kan staan.

Na hierdie wedstryd is die Bokke se 19 drieë in hulle drie wedstryde die tweede meeste na Nieu-Seeland se 27. Engeland, wat later Donderdag teen Australië speel om die wenner van groep A te bepaal, het 16 keer gedruk.

Die halfeindbepalings sal eers bepaal word na al die wedstryde in die groeprondes afgehandel is.

Puntemakers –  

Junior Springboks (31) 72: Drieë: Johan Grobbelaar 2, Gianni Lombard 2, Damian Willemse, Yaw Penxe, Juarno Augustus, Embrose Papier, Manie Libbok, Francois de Villiers, Jeanluc Cilliers. Doelskoppe: Curwin Bosch 7. Strafdoele: Bosch.
Argentinië (14) 14: Drieë: Felix Luna, Tomas Malanos. Doelskoppe: Tomas Albornoz 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wim van der Berg ·

Jammer vir die tikfout en dankie vir die uitwys! Dis reggemaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.