Junior Springbokke begin aanslag op o.20-Wêreldkampioenskapstitel

Met sewe van verlede jaar se spelers en twee onlangse oorwinning oor Georgië wat in Suid-Afrika kom toer het, sal die Junior Springbokke Woensdag (18:30) as gunstelinge teen dieselfde span uitdraf.

Dit is hulle eerste wedstryd in vanjaar se o.20-Wêreldkampioenskapstoernooi wat in Frankryk gespeel word. Die Junior Bokke se tuisveld in die groepronde is in Perpignan.

Die Junior Bokke het ook op ʼn onlangse toer ter voorbereiding vir die ware Jakob met Wallis, Skotland en Engeland klaargespeel en daar is groot verwagtinge dat hulle die eerste keer sedert 2012 weer die titel sal wen.

Hulle het wel in 2014 in Edenpark met ʼn enkele punt, 20-21, teen Engeland in die eindstryd verloor  en was in 2015 derde nadat hulle, ook teen Engeland, in die halfeind verloor het.

Verlede jaar is die Juniors in die halfeind deur Engeland uitgeskakel (22-24) wat toe in die eindstryd deur Nieu-Seeland met 64-14 verniel is.

Die ander spanne in Suid-Afrika se afdeling is Ierland en die tuisspan Frankryk. Die Hane is altyd ʼn moeilike kalant en sal dit op hulle tuisveld baie moeilik vir die Junior Bokke maak.  Dié twee wedstryde word onderskeidelik Sondag en aanstaande Donderdag.

Vir Woensdag se wedstryd in die eerste ronde, is die Stormers se losskakel Damian Willemse gekies. Hy het weens sy Superrugbyverpligtinge nie in die voorbereidende wedstryde van die Junior Bokke gespeel nie, maar was verlede jaar by dié toernooi reeds ʼn groot uitblinker.

Willemse is die onderkaptein.

Saam met hom is daar nog ses van verlede jaar se Junior Springbokspan in die wedstryd 23-tal. Hulle is die kaptein en slot Salmaan Moerat, die senter Wandisile Simelane, die agsteman Muller Uys, die heelagter Gianni Lombard en die haker Daniel Jooste, met verlede jaar se skrumskakel Rewan Kruger wat op die bank begin.

Die span teen Georgië ‒

15 Gianni Lombard, 14 Tyrone Green, 13 Wandisile Simelane, 12 Rikus Pretorius, 11 Sihle Njezula, 10 Damian Willemse, 9 Zak Burger, 8 Muller Uys, 7 JP Steenkamp, 6 Dian Schoonees, 5 Ruan Nortjie, 4 Salmaan Moerat (kapt.), 3 Sazi Sandi, 2 Daniel Jooste, 1 Nathan McBeth. Bank: 16 Schalk Erasmus, 17 Alulutho Tshakweni, 18 Asenathi Ntlabakanye, 19 Ben-Jason Dixon, 20 Ruan Vermaak, 21 Rewan Kruger, 22 Lubabalo Dobela, 23 Lyle Hendricks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.