Jy wil nie Saterdag Cheetah in Durban wees nie

G’n mens sal Saterdag in Durban ʼn Cheetah wil wees nie, wanneer dié span die Sharks op Kingspark in ʼn kragmeting om die Curriebeker pak.

Dat ʼn vuurwarm ontvangs die Vrystaters te beurt sal val, is nie te betwyfel nie.

Die besoekers is die enigste span wat die KwaZulu-Natallers tot dusver in vanjaar se reeks kon klop (met 47-12), maar Saterdag is die skoen in ʼn belangrike opsig aan die ander voet.

In die eerste botsing het die Sharks se topspelers nog Superrugby gespeel, en die Cheetahs het teen hul naasbestes gespeel; Saterdag is laasgenoemde sonder sy topspelers, wat Pro 14-rugby gaan speel, en is dit die tweedeliniespelers wat die wa deur die drif moet trek.

Sedert die Sharks hul Superrugbyspelers in die Curriebekerreeks inspan, is hulle nog nie weer geklop nie.

Die wedstryd in Pretoria tussen die Blou Bulle en Griekwas kan deurslaggewend wees in dié twee spanne se uitspeelkans. Die een wat verloor, gaan sukkel om die agterstand uit te wis.

In die Hoofstad word geglo John Mitchell kan die tuisspan se agteruitgang stuit en omkeer, en daar word gretig uitgesien na die dag dat hy dit regkry.

Uit Griekwas se oogpunt wek die Diamantvelders se wisselvalligheid kommer.

Die Pumas glo hulle kan die Goue Leeus op Ellispark klop, en dié selfvertroue is dalk nie misplaas nie.

Dit lyk nie of die Leeus die diepte het om die leemte te vul wat die afwesigheid van hul Springbokke en oorsese spelers laat nie.

Afskoptye –

Vrydag

18:15 Blou Bulle teen Griekwas, Loftus Versfeld, Pretoria.

Saterdag

14:00 Goue Leeus teen Pumas, Ellispark, Johannesburg.
16:15 Sharks teen Cheetahs, Kingspark, Durban.

Eerste Liga

Dis te vroeg in die reeks om werklik voorspellings te waag, maar met die selfvertroue voortspruitend uit die Welwitschias se goeie vertoning in die Curriebeker- Eerste Liga teen die heersende kampioen, die Griffons, kan die Namibiërs die OP Kings in Windhoek op hul baadjie gee.

Die besoekers se beste spelers ding saam met die Cheetahs in die Pro 14 mee, en die bond se Curriebekerspan is grootliks uit klubspelers saamgestel.

Dis belangrik vir die Griffons om op Vanderbijlpark met die Valke af te reken om hul seggenskap in die reeks te behou; en die Suidwestelike Distrikte (Vrydag teen Grens op George), en die Luiperds (Saterdag teen Boland op Montagu) sal wil vergoed vir die ligapunte wat hulle verlede week met hul onderlinge gelykop spel moes inboet.

Afskoptye –

Vrydag

18:00 SWD teen Grens, Outeniekwapark, George

Saterdag

14:00 Boland teen Luiperds, Koning Edward-sportterrein, Montagu.
15:00 Valke teen die Griffons, Izak Steylstadion, Vanderbijlpark.
16:00 Welwitschias teen OP, Hage Geingobstadion, Windhoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico K ·

Die Cheetahs speel eintlik met hul C span want hul neem feitlik 2 volle spanne oorsee. En die Leeus het tog diepte. Talle van hul spelers het Curriebeker en selfs superrugby ondervinding. Dit is vreemd dat hulle so swak doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.