Jy word nie maklik ’n Springbok in rugby én atletiek nie

wegspringblokke-atletiek

Ter illustrasie. Argieffoto.

Om ’n atleet van formaat te wees verg besonderse talent. Die ou mense het altyd  gesê jy word daarmee gebore.

Om boonop die boonste sport in atletiek én rugby te bereik, sit nie in enige sportman se broek nie.

Dis hoekom daar nog net drie Suid-Afrikaners was wat vir die Springbokke rugby gespeel het én die land ook op die atletiekbaan verteenwoordig het.

Net een van hulle, Attie van Heerden, het aan ’n Olimpiese Spele (in 1920 in Antwerpen, België) deelgeneem toe hy in die 400 m-hekkies deelgeneem het. Van Heerden het in 1921 vir die Bokke in drie toetse vleuel teen die All Blacks gespeel en was die eerste Suid-Afrikaner wat ’n drie teen die All Blacks kon druk. Hy het ook vyf drieë in ’n toerwedstryd teen Nieu-Suid-Wallis gedruk en die rekord was tot in 1956 in die rekordboeke voordat Roy Dryburgh dit verbeter het.

Van Heerden het ook jare lank rugbyliga in Engeland gespeel en was in die “Ander Nasionaliteite” se internasionale span nadat hy vir Wigan en Leigh uitgetroon het.

Poens Prinsloo, wat in 1963 in die derde toets op Ellispark teen die Wallabies agtsteman gespeel het, was ook ‘n Springbokatleet in paalspring toe Suid-Afrika in 1959 teen Wes-Duitsland deelgeneem het.

Jaco Reinach was ’n Springbokatleet in die 400 m en het in vier toetse vir die Bokke in 1986 teen die Nieu-Seelandse Kavaliers gespeel.

Daar was voorheen ook atlete wat naby aan Springbokkleure in albei sportsoorte was.

Gert Potgieter, wat vier keer die wêreldrekord in die 400 m-hekkies laat spat het, sou na alle waarskynlikheid ’n goue,  of minstens een van die medaljes op die Spele in 1960  in Rome gewen het. Maar sy drome was daarmee heen toe hy net twee weke voor die Spele in ’n ernstige motorongeluk betrokke was en die sig in een van sy oë verloor het.

Potgieter het senter vir Noord-Transvaal gespeel en baie kenners sê hy kon ook vir die Springbokke rugby gespeel het as daar toetsrugby in 1957 was.

Pierre Spies (Foto: Facebook via Pierre Spies)

Wat van langbeen Springbokhekkiesatleet Pierre Spies, wat so byna in die sewentigerjare ook in die Springbokrugbyspan was. Sy drie in die Curriebeker-eindstryd in 1975 teen die Vrystaat is een van die kroonjuwele van dié sportsoort.

Dit was dus heel gepas dat sy seun Pierre Spies (jnr) die Springbokmantel in 53 toetse kon dra.

Daar was baie atlete wat provinisiale rugby gespeel het, onder andere Marius Corbett, Warren McCann, Reg Marchant, Herman Venske en Jan Pienaar om net ’n paar te noem.

Maar vir die Springbokke? Nog net drie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae