Kaap is weer Hollands vir die Bulls

Foto: Hansie Linde.

Kom ons wees eerlik met mekaar: Dié storie dat ’n kaptein nou ook ’n stuiwer in die armbeurs kan gooi en vir die skeidsregter sê “kyk vinnig na dié voorval wat vyf minute terug gebeur het”, verrig nie wondere om die spel meer vloeiend te maak nie.

Ja, dit kan ongetwyfeld tot ’n span se voordeel wees, maar ander kere kan dit daarmee vergelyk word om op die hoofweg in verkeer vas te sit: Dinge kom tot ’n stilstand, motors se noodligte flikker en almal begin ’n tikkie ongeduldig raak. As die verkeer dan weer begin vloei, kan ’n mens baie kere nêrens die oorsaak van die vertraging bespeur nie.

Tydens gisteraand se wedstryd tussen die Bulls en die Stormers in Kaapstad het dié reël vir ’n strafskop en twee geel kaarte gesorg. Toegegee, toe Nizaam Carr laat in die wedstryd koelkas toe gestuur is omdat Steven Kitshoff gesien het hoe ’n Stormer-speler in sy skouer vasgehardloop het, het dit vir ’n opwindende einde gesorg.

Foto: Hansie Linde.

Die Pretorianers het uitstekend in daardie laaste paar minute verdedig om die kragmeting met 20-16 te wen; hul tweede agtereenvolgende oorwinning in die reeks.

Daarteenoor het die Stormers hulle nog ’n nederlaag op die hals gehaal nadat hulle ook verlede naweek op hul tuisveld teen die Sharks vasgeval het.

Maar dit is nie nodig dat die Kapenaars se ondersteuners in sak en as hoef te wees nie: Pieter-Steph du Toit is oudergewoonte pure Bok, terwyl Kitshoff saam met Frans Malherbe en Bongi Mbonambi die septer in die skrums geswaai het.

Tog weet die Bulls presies hoe om wedstryde onder White te wen.

Foto: Hansie Linde.

Hulle het die Stormers se lynstane deurmekaargespring en soos tiere verdedig. Voeg daarby Duane Vermeulen se invloedryke leierskap en Madosh Tambwe se driedruk-flair (die kêrel hou daarvan om teen die Stormers te speel) en jy het ’n span wat oor die hele Suid-Afrika, en dalk eendag in Europa, wedstryde kan wen.

  • Puntemakers:

Bulls: Drieë: Madosh Tambwe (2). Doelskoppe: Morné Steyn (2). Strafskoppe: Steyn, Chris Smith.

Stormers: Drie: Evan Roos. Doelskop: Abner van Reenen. Strafskoppe: Van Reenen (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
MakersMark

Dis hoe dit gedoen word Bulle !! Koperkosie se gekermry by die ref werk toe nie en die bulle se verdediging dodelik tot die einde. Duane is darem maar ‘n wêreld klas kaptein en speler. Stukke beter as die bok kaptein.

Nuff

Die stormers bly maar ‘n verleentheid vir SA rygby.

Karlahari

Nou verstaan ek hoekom die Vrystaat uitgesluit is uit die reeks. Want dit sou die manne met die groot beursies wat hulle by Maties geleen het erg in die verleentheid plaas as die Vrystaat sou goed vaar soos byvoorbeeld teen die WP.
Besef die korrelkoppe van SA Rugby wat se skade hulle aan plattelandse rugby aanrig deur n span soos die Vrystaat uit te sluit?
Hoe lank gaan Toyota nog rugby borg voor hulle totaal ontrek?

MakersMark

Lekker gelag wanneer Madosh binnekant toe breek hoe die onbeholpe WP’tjies oor mekaar val en in mekaar vashardloop. Narrespul.

Dirk Mostert

Wat ‘n vervelige kastige Europese kompetisie. Al Australie en Nieu Seeland se streekspanne het deelgeneem aan hul onderskeie kompetisies. Liewer die ou Curriebeker. Ter versagting, die Stormers se tweedespan het gespeel teen die Bulle se huurtroepe.