Kampioen neem voortou met puik tweede helfte

ʼn Puik vertoning in die tweede helfte van hul kragmeting Saterdag in die Curriebeker- Eerste Liga het die verdedigende kampioen in staat gestel om die vroeë voortou in die reeks te neem.

Die Griffons het die Valke op Vanderbijlpark met 34-19 geklop nadat die telling rustyd 12-12 was.

Die Luiperds het in die tweede plek ingeskuif deur Boland op Montagu oortuigend met 47-26 te verslaan, nadat die tuisspan rustyd nog met 19-14 voor was. Die Kavaliers, wat ná hul eerste wedstryd boaan die punteleer was, het gevolglik tot die vyfde plek getuimel.

Jeandré Rudolph het drie drieë vir die wenspan gedruk.

ʼn Goeie oorwinning van 41-20 oor die Grens (rustyd 28-6) in George plaas die Suidwestelike Distrikte derde op die punteleer.

Leighton Eksteen het 16 van die Arende se punte met vyf doelskoppe en twee strafdoele aangeteken.

Intussen bevind Namibië se Welwitschias hulle in ʼn ongewone goeie vierde plek, nadat hulle die roemlose OP Kings in Windhoek met 51-25 afgeransel het (rustyd 23-8).

Theuns Kotzé (losskakel) het 21 punte vir die Biltongboere aangeteken. Hy het al ses sy span se drieë verdoel en met drie strafdoele geslaag.

Die puntemakers –

Valke 19 (12) – Drieë: Warren Potgieter, Don Mlondobozi, Coert Cronjé. Doelskoppe: Warren Potgieter, Christiaan Rust.

Griffons 34 (12) – Drieë: Louis Venter, Jaun Kotzé, Duan Pretorius, Vuyo Mbotho, Selvyn Davids. Doelskoppe: Duan Pretorius (3). Strafdoele: Duan Pretorius.

Boland 26 (19) – Drieë: Clemen Lewis, Ludio Williams, Adriaan Carelse, strafdrie. Doelskoppe: Divan Nel (2).

Luiperds 47 (14) – Drieë: Jeandré Rudolph (3), Gene Willemse (2), Bradley Moolman, Schalk Hugo. Doelskoppe: Gerhard Nortier (4), Schalk Hugo (2).

SWD 41 (28) – Drieë: Johannes Stander (2), Friginald Africa, Leighton Eksteen, Marlou van Niekerk. Doelskoppe: Leighton Eksteen (5). Strafdoele: Leighton Eksteen (2).

Grens 20 (6) – Drieë: Lelethu Gcilitshane, Siyasanga Ncanywa. Doelskoppe: Xolela Payi (2). Strafdoele: Bangi Kobese (2).

Welwitschias 51 (23) – Drieë: Rohan Kitshoff, Thomasau Forbes, Johan Tromp (2), Lesley Klim, Christo van der Merwe. Doelskoppe: Theuns Kotze (6). Strafdoele: Theuns Kotze (3).

OP 25 (8) – Drieë: Anele Lungisa, Zingisa April, Ivan du Preez, Riaan Arends. Doelskop: Sonwabo Majola. Strafdoel: Sonwabo Majola.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.