Kampioen wen Pro14 weer; twee uit SA vereer

(Foto: Leinster Rugby via Twitter)

Verlede jaar se Pro14-kampioen het sy titel Saterdag suksesvol verdedig; en daar is twee Suid-Afrikaners in die reeks se amptelike uitsoekvyftiental.

Die Ierse provinsie Leinster het die reeks vir die sesde keer gewen deur die Skotse superklub Glasgow in die sokkerstadion Celtic Park, Glasgow, in ʼn klipharde stryd in gietende reën met 18-15 te klop.

Hy het geskiedenis gemaak deur die eerste span te word om die titel ʼn tweede keer in twee opeenvolgende seisoene te wen. Sy vorige opeenvolgende seges was in 2012 en 2013.

Glasgow het vroeg die voortou geneem, en was ná 22 minute met 10-5 voor – ʼn voorsprong wat net vyf minute geduur het voordat Leinster die bordjies verhang het.

Die stryd om balbesit het redelik gelykop verloop, maar die wenspan het groter gebiedsvoordeel daaruit geput.

Glasgow het die bal meer kere en verder gedra en meer rondgegooi, maar Leinster het rotsvas verdedig, minder foute gemaak en doeltreffender rugby gespeel.

Die 47 128 toeskouers wat die eindstryd bygewoon het, was ʼn rekord vir die reeks.

Die puntemakers –

Glasgow Warriors 15 (10) – Drieë: Matt Fagerson, Grant Stewart. Doelskop: Adam Hastings. Strafdoel: Adam Hastings.

Leinster 18 (15) – Drieë: Gary Ringrose, Cian Healy. Doelskop: Johnny Sexton. Strafdoele: Johnny Sexton (2).

t Rabz Maxwane, die Cheetahs se linkervleuel, en Pierre Schoeman, Edinburg se loskopstut, is in vanjaar se Pro14-uitsoekvyftiental ingesluit.

Maxwane se 14 drieë was die meeste in vanjaar se groepfase en ewenaar die reeksrekord.

Schoeman is ʼn gewese SA Skole- en SA o. 20-speler, wat Superrugby vir die Bulls gespeel het.

Dit val op dat net twee van Saterdag se eindstryders – Scott Fardy, ʼn Wallaby-slot van Leinster, en Zander Fagerson, Glasgow Warriors se vaskopstut – dié vyftiental gehaal het.

Die vier Ierse provinsies het sewe spelers vir die uitsoekspan opgelewer, die vier Walliese streke en twee Skotse superklubs elk drie, en die twee Suid-Afrikaanse franchise’e en twee Italiaanse klubs elk een.

Afkomsgewys sien sake heel anders daaruit. Die vyftiental is uit vyf Iere, drie Australiërs, twee elk Walliesers en Suid-Afrikaners, ʼn Skot, ʼn Samoaan en ʼn Fidjiaan saamgestel.

Die uitsoekvyftiental –

15 Dan Evans (Ospreys), 14 Monty Ioane (Benetton), 13 Ray Lee-Lo (Cardiff Blues), 12 Stuart McCloskey (Ulster), 11 Rabz Maxwane (Cheetahs), 10 Jack Carty (Connacht), 9 John Cooney (Ulster), 8 Bill Mata (Edinburg), 7 Colby Fainga’a (Connacht), 6 Peter O’Mahony (Munster), 5 Scott Fardy, 4 Tadhg Beirne (Munster), 3 Zander Fagerson (Glasgow Warriors), 2 Ken Owens (Scarlets), 1 Pierre Schoeman (Edinburg).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.