Kampioen WP in die visier by Cravenweek, Akademieweek

Soos die afgelope jare sal die Cravenweek en ook die Akademietoernooi vir o.18’s wat vanaf Maandag deur die Goue Leeus by St Stithians’s aangebied word, oor meer gaan as bloot net die mededinging om as die voorste span gekroon te word.

Daar word na afloop van die week weer twee SA Skolespanne gekies wat in die internasionale reeks teen Wallis, Engeland en Frankryk sal meeding, met al die wedstryde wat op 11, 14 en 19 Augustus in Kaapstad gespeel sal word.

Die keuse van die Moederstad as basis vir die mini-toetse is egter baie gepas. Hoewel dit nie die besluit beïnvloed het om die toernooi daar te hou nie, is die WP duidelik die voorste provinsie sover dit jeugrugby betref.

Kyk maar na die volgende prestasies:

  • Die WP het verlede week by die twee jeugweek-toernooie in Bloemfontein albei hulle titels in die o.13- en o.16-Gran Khomo-afdelings suksesvol verdedig
  • Hulle gaan die toernooi by St Stithians binne as die voorste span in die Cravenweek waar hulle in 2015 en ’16 die hoofwedstryde gewen het
  • In die Akademieweek het hulle sedert 2014-’16 reeds ʼn driekuns behaal deur elke jaar bo te eindig.
  • Die o.13s het, saam met vanjaar se toernooi, reeds vyf keer na mekaar koning gekraai.
  • Die Grant Khomo o.16-span het verlede jaar en ook vanjaar gewen.

Wie gaan die WP se Cravenweekspan vanjaar by Saints hokslaan, indien hoegenaamd?

Dis moeilik om te voorspel, maar sommerso lyk dit of die WP se taaiste teenstand in hulle groep wat reeds Maandag speel, van die Goue Leeus sal kom wat goed in hulle vriendskaplike wedstryde gevaar het – en soms nie eers met hulle uitsoekspan nie.

Die WP skop teen die Pumas af, en die Goue Leeus speel in die hoofwedstryd van die dag teen Grens, wat met sy goeie skole-voedingsbron nie ligtelik opgeneem moet word nie.

Die Sharks is seker ook ʼn effense bedreiging in die afdeling, maar skolerugby  in  KwaZulu-Natal is die afgelope jare maar aan die eina-kant.

In die groep wat Dinsdag speel, sal dit die OP, die Vrystaat en moontlik die Blou Bulle wees wat sal meeding om ʼn plek in Saterdag se hoofwedstryd.

Die Blou Bulle het egter kwaai in die opwarmwedstryde gesukkel en sal na verwagting nie soos dikwels ʼn sterk aanspraakmaker wees nie.

In  die Akademieweek-toernooi behoort Maandag se hoogtepunt die laaste wedstryd, tussen die WP en die Boland, te wees.

Cravenweek, Maandag (eerste dag)

08:30 –Griffons vs Griekwas-platteland
10:05 – Limpopo Blou Bulle vs Grens-platteland
11:35 – Vrystaat vs Boland
13:15 – WP vs Pumas
15:30 – Goue Leeus vs Grens

Akademieweek, Maandag (eerste dag)

08:00 – Valke vs Limpopo Blou Bulle
09:20 – OP-platteland vs Griekwas-plattelan
10:40 – S:arks-platteland vs Griffons
12:00 – OP vs Griekwas
13:20 – Sharks vs SWD
15:30 – WP vs Boland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.