Kampioen wys sy staal; tuiskwarteinde bepaal

Die verdedigende Goue Beker-kampioen het Saterdag sy staal gewys deur uiteindelik wel boaan sy groep in die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale oopklubreeks te eindig.

Rustenburg Impala (Luiperds) het Vereeniging (Valke) op laasgenoemde se tuiswerf met 24-7 geklop, en sodoende Sasol van Secunda (Pumas) in die tweede plek in Groep A ingedwing. Impala speel dus weer tuis in die eerste uitspeelronde.

Nes verlede jaar het die Westelike Provinsie twee klubs in die kwarteindronde, maar op die koop toe het albei vanjaar tuiskwarteinde ingepalm.

In Groep D het Valsbaai ʼn naelskraapse, dog indrukwekkende oorwinning van 15-14 in Durban oor College Rovers (KwaZulu) behaal; en in Groep C het Tygerberg, ʼn promotorskeuse, Saru se vertroue in hom bevestig deur Old Selbornians (Grens) met 29-7 te oorskadu.

Die Blou Bulle se Carltonkampioen, Quins-Bobbies-rugby (QBR) het die grootste sege van die dag behaal deur die kampioen van dié bond se Limpopostreek, Northam Rhinos, in Groep B met 50-12 te looi. Dit besorg aan hom die ander tuiswedstryd.

Naas Sasol, Rovers en Northam is Progress George (Suidwestelike Distrikte) die ander wegkwarteinder, ná sy nederlaag van 14-19 teen Progress Uitenhage (Oostelike Provinsie).

Ander uitslae –

Bloemfontein Polisie 38, Welkom 15; Roses United 48, Sishen 34; Raiders 52, Vaal Reefs 19.

Opgesomde punteleer –

Groep A

Impala 17, Sasol 17, Polisie 11, Vereeniging 11, Welkom 2.

Groep B

QBR 20, Northam 14, Old Georgians 12, Raiders 9, Vaal Reefs 2.

Groep C

Tygerberg 16, Progress George 15, Progress Uitenhage 11, Swallows 11, Old Selbornians 6.

Groep D

Valsbaai 19, Rovers 16, Roses United 10, Sishen 6, Western Suburbs 3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.