Kampioenebeker: Leinster loop Toulouse plat

Leinster het Toulouse met 40-17 in Dublin geklop. (Foto: Twitter / @LeinsterRugby)

Leinster se rugbybase steek nou lekker tong uit vir almal wat ’n paar weke gelede hul besluit gekritiseer het om ’n sogenaamde tweede span vir twee wedstryde in die Verenigde Rugbykampioenskap na Suid-Afrika te stuur.

Dié skuif is geneem om Leinster se voorste spelers ʼn ruskans te gee en beseringsvry te hou voor die laaste Kampioenebeker-wedstryd ’n week gelede teen die Leicester Tigers en Saterdag se halfeindstryd teen Toulouse.

Die plan het klopdisselboom gewerk, want Leinster speel die eerste keer sedert 2019 weer in die eindstryd nadat hulle Toulouse met 40-17 in Dublin geklop het.

Die eindstryd is op Saterdag 28 Mei in Marseille wanneer die Ierse kampioenspan die wenner pak van Stade Français en Racing 92, wat Sondag in die ander halfeindstryd speel.

Leinster het Toulouse met 40-17 in Dublin geklop het. (Foto: Twitter / @LeinsterRugby)

Leinster het vier drieë gedruk en het Toulouse, wat verlede Saterdag eers ná bykomende speeltyd vir Munster in ’n strafkop-uitskietstryd kon uitskakel, onverrigter sake huis toe gestuur.

Maak maar die sommetjies: Saterdag was daar 40 000 toeskouers in Dublin en wees maar verseker dat die eindstryd ook uitverkoop sal wees.

Dit beteken mos miljoene in die bank, want dié reeks is die geldkoei van Europese rugby.

Dan het dit mos heeltemal sin gemaak dat Leinster slim genoeg was (en dalk gewaag het) om sy “tweede” span in die VRK-reeks teen die Sharks en Stormers te laat speel, veral omdat hulle tuisveldvoordeel in al hul komende uitspeelwedstryde sal hê.

Punte: Leinster 40 (23): Drieë: James Lowe (2), Josh van der Flier, Hugo Keenan. Doelskoppe: Johnny Sexton (3), Ross Byrne. Strafdoele: Sexton (3), Byrne.

Toulouse: 17 (10): Drieë: Antoine Dupont, Selevasio Tolofuya. Doelskoppe: Thomas Ramos. Strafdoele: Ramos (2).

* In die Kampioene-uitdaagreeks het twee Franse spanne, Toulon en Lyon, tot die eindstryd op 27 Mei, ook in Marseille, deurgedring toe hulle hul Engelse eweknieë geklop het.

Toulon, aangevuur deur die Springbokslot Eben Etzebeth en gelaai met tien ander internasionale spelers, het in die Stadio Felix Mayol ʼn oorwinning van 25-16 oor Saracens behaal.

Lyon, wie se losskakel Leo Berdeu 15 punte (’n drie, twee doelskoppe en twee strafdoele) behaal het, het Wasps met 20-18 geklop.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.