Kampioenebeker-reeks: Toulouse korrel beter as Munster

Toulouse se Francois Cros (links) en Munster se Joey Carbery (7 Mei 2022) (Foto: Lorraine O’Sullivan/AFP)

Wanneer ʼn rugbywedstryd, veral in die uitklopronde van ʼn reeks, gelykop eindig, word daar spottender daarna verwys dit was soos om jou suster te soen.

As ʼn span in bykomende speeltyd verloor, hang daar jare lank ʼn kleed van onsekerheid oor hom, soos die All Blacks van 1995 nadat die Springbokke hulle in ekstra tyd met 15-12 in die Wêreldbeker-eindstryd op Ellispark geklop het.

Maar wanneer die telling ná bykomende speeltyd steeds gelykop is omdat albei spanne ook ewe veel drieë gedruk het, word die wenner normaalweg met uitskop-strafskoppe beslis.

Dit is die lot wat Munster Saterdag in Dublin in die kwarteindronde van die Europese Kampioenebeker-reeks getref het toe Toulouse, die heersende kampioen, met strafskoppe gewen het.

Die eindtelling was 24-24, ná bykomende speeltyd was dit steeds 24-24 en toe klits Antoine Dupont, Thomas Ramos en Romain Ntamack hul strafskoppe vir Toulouse oor, terwyl Ben Healy en Conor Murray vir Munster misluk het.

Toulouse speel nou komende Saterdag in die halfeindronde teen Leinster, wat die Leicester Tigers met 23-14 geklop het.

Munster se nederlaag is eintlik slegte nuus vir die Stormers, Sharks en Bulls in die Verenigde Rugbykampioenskap.

Dié vier spanne is saam met Ulster in ʼn hewige stryd gewikkel om te bepaal watter spanne in die topvier (Leinster is bo met 62 punte en kan nie meer ingehaal word nie) sal eindig om tuisveldvoordeel in die uitkloprondes te beklink.

Munster is saam met die Stormers en Sharks gesamentlik tweede met 56 punte en rond sy bepalings met ʼn laaste kragmeting met Leinster af.

Maar Munster is in die binnebaan, want sy punteverskil is beter as dié van die Stormers en Sharks en hy het ook meer drieë as hulle gedruk.

Die Stormers speel teen die Walliese Scarlets in Llanelli, die Bulls pak die Ospreys in Swansea en die Sharks speel teen Ulster in Belfast.

Kom ons wees eerlik, die Kampioenebeker-reeks is veel meer lonender as die VRK-reeks, want dit is die geldkoei van Europese rugby.

Leinster sal al sy aandag op die halfeindstryd teen Toulouse toespits en sal na alle waarskynlikheid sy sogenaamde tweede span teen Munster vir sy laaste kragmeting in die VRK-reeks kies.

Dit kan die deur vir Munster ooplaat om te wen om bo die drie Suid-Afrikaanse spanne in te skuif om tuis in die uitkloprondes te speel.

As Ulster boonop die Sharks klop, kan die boonste drie posisies op die VRK-punteleer deur Ierse spanne gevul word, met die Stormers, Sharks en Bulls onderskeidelik vierde, vyfde en sesde.

Dis hoekom dit ononderhandelbaar vir die SA spanne is om oor twee weke op ʼn wennoot af te sluit voordat die uitspeelrondes begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.