Kan Ackers die beste uit Cipriani haal?

Johan Ackermann. (Foto: Twitter)

Die oud-Lions-afrigter Johan Ackermann het goud raakgeboor toe hy die Gloucester-base oortuig het om die reddingsboei na die omstrede Engelse losskakel Danny Cipriani uit te gooi.

Cipriani, 30, is een van die blinkste diamante in rugby en as hy reg bestuur word, kan hy baie dividende vir die klub oplewer.

Maar as sy kop die dag uitrafel, gaan hy enige afrigter en sy span gryshare besorg, want hy haal om verkeerde redes die voorblaaie van koerante en webwerwe.

Hy het reeds ʼn lang rits oortredings begaan en dis waarskynlik sy laaste kans om te wys waartoe hy in staat is en dat hy ʼn nuwe blaadjie kan omslaan.

Cipriani is ʼn uiters begaafde en veelsydige sportman.
Hy het jare gelede vir Queens Park Rangers se junior sokkerspanne gespeel, hy is deur die Surrey-krieketklub uitgenooi om hom as kolwer by die klub aan te sluit en het muurbal vir sy graafskap gespeel. Hy was ook Engeland se o.16-rugbyspan se kaptein en het reeds in 2008 op 20-jarige ouderdom sy buiging vir die Engelse rugbyspan gemaak.

Maar soos talle ander geniale spelers voor hom – soos die oud-Junior Springbokvleuel Francois Roux (wat destyds vir vyf provinsies gespeel het en ’n besonderse goeie atleet was, maar nooit rustigheid kon vind nie), James Small, James O’Connor en Kurtley Beale – is Cipriani ook ʼn nomaad, avonturier, alleenloper en ʼn rebel sonder rede.

Cipriani het Saterdag op Kingsholme sy buiging vir Gloucester teen die Northampton Saints in die Engelse Premierliga gemaak en sy tweestryd met die Walliese losskakel Dan Biggar maklik gewen.

Hoe hanteer Ackermann vir Cipriani?

“Ons het nie met hom gepraat (voordat Cipriani die kontrak onderteken het) oor doelwitte nie. Ons het net gesê dat die klub mededingend wil wees, ondernemende rugby wil speel en daarop wil verbeter.”

Dis Ackermann se bestuurstyl en dis hoekom die spelers so lojaal teenoor hom is en hom wil volg waar hy ook al gaan.

Ek onthou hoe hy jare gelede altyd sy kinders (dis toe Ruan nog ʼn kannetjie was) saam na die onthale op Ellispark geneem het.

“Jammer Meneer, geen kinders toegelaat nie,” het die beampte by die deur gesê.

“Jammer, dan bly ek maar ook buite,” het Ackers altyd gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.