Kan Allister en Jantjies die regte toutjies trek?

Elton Jantjies – sal hy toegelaat word om soos by die Lions te speel? (Foto: Inus Grobler)

Wat is die belangrikste posisie op ʼn rugbyveld?

Ongetwyfeld losskakel.

Dink maar aan Naas Botha, Hugo Porta, Jonny Wilkinson en Dan Carter, almal wedstrydwenners.

Ja, jy moet 15 spelers hê wat hul primêre take reg uitvoer, wat kan vang, verdedig en hanteer, die regte besluite neem en hul kanse gebruik.

Maar as jou losskakel die dag louwarm is, as hy nie oorheers nie, kan jy maar die ligte afskakel en die deure toetrek.

Dis hoekom die vertoning van Elton Jantjies vanjaar vir die Bokke in die kollig sal wees. Gaan die Bok-afrigter, Allister Coetzee, hom toelaat om sy eie kop te volg, of gaan hy van Jantjies verwag om ʼn wedstrydplan te volg wat dalk nie sy spel pas nie?

Om die een of ander rede het Jantjies nog selde onder Coetzee se afrigting gedy. Nie by die Stormers nie en ook nie in ʼn Boktrui nie, of altans so lyk dit van langs die kantlyn af.

Daar is nege Lions in die Bokke se groep vir die toetsreeks teen die Franse, maar hoeveel van Jantjies se spanmaats sal in die beginspan wees: vyf, ses? Gaan hulle toegelaat word om soos die Lions te speel?

Wie gaan die Bokke se binnesenter wees? Damian de Allende?

Die Engelse afrigter, Eddie Jones, het nou onder Todd Blackadder, Bath se afrigter, ingeklim en hom daarvan beskuldig dat hy die Engelse losskakel George Ford se ontwikkeling gestriem het. Blackadder, wat jare lank vir die Crusaders en All Blacks gespeel en die Crusaders (onsuksesvol) afgerig het, is nou in beheer by Bath, wat vyfde in die Engelse Premierliga geëindig het. Hy het ook die Walliese losskakel Rhys Priestland bo Ford verkies.

Jones het nie baie ooghare vir Blackadder nie (trouens, vir bitter min Nieu-Seelanders). In Ford se geval is hy dalk reg.

“Soms verwag klubs van spelers om  op ʼn ander manier te speel en dan pas dit hulle nie. Dit het sy (Ford) se ontwikkeling gekortwiek,” het Jones volgens die BBC gesê.

Ford (24) skuif nou oor na Leicester Tigers, want hy sê hy wil “deel wees van ’n suksesvolle span”.

Ons kan netsowel die name van Blackadder en Ford met dié van Coetzee en Jantjies vervang. Of gaan hulle my heeltemal verkeerd bewys?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Frans C ·

Geen Springbokspan sal soos die Leeus kan speel nie,want die patroon is oor ‘n lang tydperk
ontwikkel.Suid Afrika het in teenstelling geen eenvormige rugbypatroon nie en sal mi nooit een hê nie want daarvoor is daar te veel eiewyse afrigters en dwarstrekkers,op alle vlakke.

Kyk maar watter invloed besoekende toerspanne wat goed gevaar het op plaaslike rugby
gehad het,veral die wat goed gevaar het.In 1974 het die Britse leeus opskudding veroorsaak
deur die Bokke 3-0 te klop met die laaste toets gelykop.Was gelukkig om deur klub ‘n kaartjie te kry vir laaste toets en beland toe heelbo op ‘n tydelike stalasie,ver bo die hoogste bome.

Die Lions se skrumwerk was uitstekend so ook hul rol-maalbeweging, wat by tye werklik
‘n rol en maalbeweging was.Vir ‘n tyd lank het plaaslike afrigters dit ook probeer na-aap,
sonder veel sukses.

Die gebrek aan ‘n eenvormige patroon op alle vlakke het baie Springbokspanne gekniehalter en was dit dikwels die samekoms van ‘n klompie uitsonderlike spelers, ‘voetballers’ in Doc Graven se woordeskat wat vir roem op die rugby op die veld gesorg het.

Kyk maar hoe skielik wil almal nou soos die Leeus speel.

Anoniem ·

Die antwoord is NEE, Elton Jantjies gaan nie die mas opkom nie, want:
1. Die Springbokke en Leeus se spelpatrone verskil.
2. Jantjies blink net uit agter ‘n wen pak voorspelers en dit gaan hy nie altyd by die Springbokke kry nie. Kyk maar gerus na die wedstryde waarin die Leeu se gesukkel het.
3. Jantjies het nog NOOIT uitgeblink in ‘n Springbok span nie.
4. Die feit dat hy as die beste in vorm losskakel in SA gesien word onderstreep net die feit dat ons op die oomblik nie goeie losskakels in SA het nie.

Kollie ·

Ek sal volstaan deur te sê dat as jy as Springbok gekies word jy goed genoeg behoort te wees om by enige spelpatroon aan te pas en saam met enige ander Springbok van ‘n ander span te kan speel. Was nog altyd so en sal altyd so wees. Naas Botha het skoprugby vir NTvl gespeel maar in die Bok trui kon hy net so goed sy agterlyn aan die gang kry met aanvallende spelers soos Michael du Plessis en Danie Gerber aan sy buitekant. As ‘n speler nie die mas opkom in ‘n toets nie IS HY NIE GOED GENOEG NIE maak nie saak wat die spelpatroon nie. Daar is geen verskoning van wedstrydplan of wat okal al nie, jy pas aan.

Kollie ·

Hierdie was ons spogagterlyn teen Wallis verlede jaar: Faf de Klerk, Jantjies, Rohan, Venter, Ulongo, Combrink, Goosen. Mapoe was op die bank as reserwe-agterspeler. Hoe het dit gegaan? (wenk – verloor met rekordtelling) LOL

Frans C ·

As jy voorlangs pak kry, gaan die beste agterlyn jou nie red nie.

Kollie ·

LOL. Hulle het oorgenoeg bal gekry om te hardloop. Ek kan onthou hoe Rohaaan soos ‘n lappop rondgepluk is toe hy probeer om oor manne te hardloop, hoe Jantjies heeltemal die plot verloor het deur nie eers basiese dinge soos afskoppe te kan bemeester nie, hoe die agterlyn verdedig het (wel soos die Lions, daar was geen verdediging nie). Swak

Frans C ·

Is seker jy het nie geslaap nie,want wat ek gesien het is twee onderskeppogingsen een aftrek van losskrum 9 punt aan Wales besorg en in die doodsnikke hardloop die no 7 flank dwarsdeur die verdediging, verby die grypende van ‘n voorry.

Die telling was 27-13.Neem nou 16 punte weg en jy sal sien dat jy werklik geslaap het en van rugby soveel weet as ‘n kat van klavierspel.

Kollie ·

27 – 13 teen Wallis. LOL, genade wat sou die AB’s nie teen daai agterlyntjie gemaak het nie. Dit sou ‘n slagting van epiese proporsies gewees het.

ChrisH ·

Kollie- Jy het duidelik geen benul van rugby nie. Jy moet maar eerder stil bly. Jy is net negatief met enige iets wat met die Leeus gepaart gaan. Mmm ek wonder wie is die beste span in SA vir jaar….
Kom ek raai, jy is seker n Weepee supporter?

Jaybee ·

Jantjies is nie die oplossing nie. Lionel Gronje is beter toegerus, hy is groot verdedig goed, skop uitstekend en is ook goed op die aanval.

King George ·

Ek verkies ook tans Lionel Cronje op lossakakel.
Die veskillende spelstyle van die provinsies of franchises is nie die probleem nie. Inteendeel dit behoort n voordeel te wees wat onverwagse bewegings kan uitvoer. Hulle moet net footbalers wees. Die All Blacks se patroon kan met deeglike ontleding en uitvoering gestop word. Gekontroleerde innovering en agressie is nodig.
Stekte.

King George ·

Ek verkies ook tans Lionel Cronje op lossakakel.
Die veskillende spelstyle van die provinsies of franchises is nie die probleem nie. Inteendeel dit behoort n voordeel te wees wat onverwagse bewegings kan uitvoer. Hulle moet net footbalers wees. Die All Blacks se patroon kan met deeglike ontleding en uitvoering gestop word. Gekontroleerde innovering en agressie is nodig.
Sterkte.

Herman Goosen ·

Vergeleke met die res van die wereld sukkel ons losskakels takties geweldig wat ‘n direkte refleksie het op die tegniese minderwaardigheid wat afrigters in Suid Afrika oor beskik. As ek kyk na hoe ongelooflik goed ander lande se losskakels besluite neem in vergelyking met ons spelers is daar jare se verskil. Ons losskakels is geneig om baie eer balbesit met hulle skoppies af te staan as ander lande se spelers.

‘n Loskskakel wat baie balbesit kry op ‘n stewige platform lyk altyd stukke beter as een wat die bal dikwels onder druk kry. Die dae van Springbok voorry dominansie is verby, en dus dink ek nie Jantjies doen so goed in ‘n Springbok trui nie.

Kersater ·

Suid Afrikaanse spanne en Franse spanne speel dieselfde rugby…kyk maar net. Die Leeus speel die ou Franse styl. Gaan interesant wees om te sien wie speel watse styl.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.