Kan Crockett se weglating die Crusaders byt?

Wyatt Crockett – vir die eindstryd weggelaat. (Foto Twitter @RugbyHeaven)

Dit was op die oog af ʼn maklike besluit vir die Crusaders-afrigter, Scott Robertson, om sy span te kies vir Saterdag se Superrugby-eindstryd teen die Lions in Christchurch. Tog het hy slapelose nagte daaroor gehad.

Sy moeilikste besluit, net soos voor die halfeindstryd teen die Hurricanes, was om die veteraanstut en een van die mees lojale spelers, Wyatt Crockett, in te lig dat hy nie gaan speel of eens op die bank sal wees nie.

Ja, Crockett, die man wat sedert 2006 sy lyf in 202 wedstryde vir die Crusaders op die spel geplaas het.

Het die Lions se afrigter, Swys de Bruin, se kommentaar dat hy Saterdag se skeidsregter, Angus Gardiner, op die Crusaders se onwettige inslaan in die skrum wil wys, iets daarmee te doen?

Crockett is mos jarelank in sy loopbaan daarvoor gestraf, hoewel ek nie altyd die kloutjie by die oor kon bring nie.

Dis ʼn kras besluit, uiters kras, en Robertson wou hom nie daaroor uitlaat nie.

“Jy moet maar vir Wyatt gaan vra … dit was nie ʼn maklike gesprek nie. Ons het die volgende dag saamgetrek,” het Robertson aan stuff.co.nz oor die weglating gesê.

Kan dit boemerang? Ja, baie maklik, hoewel die span se belange altyd voorop gestel moet word.

Dink maar terug daaraan toe Naas Botha op ’n keer uit Noord-Transvaal se span gelaat is. Daar was woede en emosies wat onnodig opgevlam het en die destydse koerante se sirkulasies die hoogte laat inskiet het. Toe is Naas terug vir die volgende wedstryd.

Dink maar terug toe Nick Mallett vir André Venter slot toe geskuif het om vir Bob Skinstad plek te maak. Of toe Mallett die kaptein Gary Teichmann uit die Springbokspan gegooi het.

Dit het die Bokke by 1999 se Wêreldbekertoernooi laat ontspoor.

Maar nou ja, hulle sê mos daar is nie plek vir gawe ouens nie.

Robertson het net een noodgedwonge verandering in die opdrafspan aangebring wat die Hurricanes met 33-12 geklop het deur die veel langer Heiden Bedwell-Curtis (1,94 m) bo Pete Samu (1,85 m) in die beseerde Jordan Taufau se plek op flank te kies.

Samu is op die bank, omdat hy vir al drie losvoorspelers kan instaan as die nood sou druk.

Twee hakers is ook op die bank benoem omdat daar kommer oor Andrew Makalio se kuitbesering is. As hy nie betyds herstel nie, sal die onbekende Sam Anderson-Heather op die bank wees.

Die Crusaders se span ‒

David Havili, Seta Tamanivalu, Jack Goodhue, Ryan Crotty, George Bridge, Richie Mo’unga, Bryn Hall, Kieran Read, Matt Todd, Heiden Bedwell-Curtis, Sam Whitelock (kaptein), Scott Barrett, Owen Franks, Codie Taylor, Joe Moody. Plaasvervangers: Sam Anderson-Heather/Andrew Makalio, Tim Perry, Michael Alaalatoa, Luke Romano, Pete Samu, Mitchell Drummond, Mitchell Hunt, Braydon Ennor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.