Kan dié All Black-troosprys in Bokland slaag?

Dis ʼn interessante troosprys wat die Nieu-Seelandse rugbybase vir Christchurch beplan in sy toetsdroogte wat minstens nog tot aanstaande jaar sal duur.

Al is dit nie in ʼn toets nie, sal die plaaslike rugbygeesdriftiges darem vanjaar die swartspan in aksie sien.

Die All Blacks sal in Augustus die provinsiale spanne van Canterbury en Otago (LW: nie die Crusaders en die Highlanders nie) in ʼn wedstryd van drie helftes aandurf. Dit beteken die drie spanne speel om die beurt teen mekaar.

ʼn Mens wonder hoe ʼn soortgelyke proefneming in Suid-Afrika sou kon vaar.

Het die Curriebekerspanne van enige een van die Westelike Provinsie (die verdedigende kampioen), die Blou Bulle, die Goue Leeus of die Sharks die vermoë om mededingend teen ʼn Springbokspan te vertoon?

Hoeveel toeskouers sal betaal om te gaan kyk?

Dis retoriese vrae, ja, maar ’n mens kan mos maar drome droom.

♦ Christchurch was van 1913 af ʼn gereelde toetstuiste vir die All Blacks, maar sedert ʼn aardbewing die geskiedkundige Lancaster Park in 2011 in puin gelê het, beskik die stad nie oor ʼn stadion van toetsgehalte nie.

Suid-Afrikaners sal Lancaster Park veral onthou omrede Tiny Naudé se legendariese strafdoel wat die Springbokke in staat gestel het om 1965 se derde toets met 19-16 te wen.

Canterbury is voorlopig van sy toetsstatus gestroop en die Nieu-Seelandse Rugbyunie (NZRU) het die stad uitdruklik laat verstaan dat hy nie weer ʼn toets sal aanbied voor sy huis in orde is nie.

Die AIM-stadion met sy 18 000 sitplekke, waar die Crusaders hul tuiswedstryde speel, voldoen nie aan die eise van toetsrugby nie. Ook nie juis aan dié van Superrugby nie, en die Crusaders se afrigter, Scott Robinson, het onlangs onder die “burokrate en politici” ingeklim oor die gebrek aan vordering met ʼn geskikte stadion.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Garath ·

Wie onthou dat Tiny Naude slot gespeel het en daardie skop op ‘n modderige veld met ‘n nat bal geskop is.

Kiewiet ·

Dit lyk vir my of Piet Ebersohn vergeet het die C HEETHAS en die Griekwas speel ook in die Curriebeker reeks . Of kom die Cheethas nou nie meer in aanmerking vir die Boerbok span nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.